Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Ondanks hofbevel is Bloemfonteiners sonder water

Slegs dae nadat die hooggeregshof in Bloemfontein beslis het dat die stad se watertoevoer nie tot net 30% van die normale toevoer verminder mag word nie, was ’n groot deel van die stad se inwoners Sondagoggend waterloos.

Rossouw Botes, DA-raadslid belas met watersake.Foto: Marietjie Gericke

Bloemwater, die waterraad van die Mangaung-metro, het Sondag waterlewering na die metro-gebied tot slegs 30% verminder omdat die metro nie sy maandelikse rekening betaal het nie en boonop honderdmiljoene rande skuld, sê Rossouw Botes, DA-raadslid van die metro.

Hy sê hy het by Bloemwater verneem dat daar teen Donderdag se hofbeslissing geappelleer is.

Botes sê hy kry nie vir adv. Tankiso Mea, Mangaung se stadsbestuurder, en sy hoofamptenare wat met water werk in die hande nie.

Bloemwater sê in ’n brief aan die nasionale tesourie die metro het hom op 30 Junie R449,6 miljoen geskuld, sê Botes.

Einde Julie se waterrekening moes voor Saterdag 7 September betaal gewees het, maar dit het nie gebeur nie.

Die metro het Vrydag net R14,6 miljoen van die ou skuld betaal en nie sy jongste waterrekening nie.

Botes sê hy het Sondagoggend sy hande vol gehad soos wat inwoners wat sonder water begin raak het, hom gekontak het.

Die hooggeregshof het Donderdag beslis dat Bloemwater nie die krane na die metro mag toedraai nie alvorens die partye hul geskil oor wat presies die metro se skuld beloop, opgelos het.

Lees ook: Bloem se krane moet oop bly, sê hof

Botes sê die feit dat waterlewering na die metro tot 30% verminder is, beteken dat die suidelike gebiede van Bloemfontein, asook Wepener en Dewetsdorp – wat ook hul water van Bloemwater af ontvang – geraak gaan word.

Botes sê die boonste gedeeltes van Pellissier het Sondagoggend reeds nie water gehad nie.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro.Foto: Argief
Die Brandkop-reservoir in Pellissier was Sondagoggend maar 47% vol, sê Botes. Brandkop is die hoofreservoir van die water wat die metro van die Welbedachtdam kry. Dié dam verskaf 70% van die metro se water en bedien die middestad en die suidelike gebiede van die metro.

Botes sê hy wou Sondag watertenks probeer reël met metro-personeellede vir diegene wie se water begin opraak, “maar kon niemand in die hande kry nie”.

Hy sê sover hy weet het Lindiwe Sisulu, nasionale minister van waterwese, sanitasie en infrastruktuur, wat beloof het om die metro te besoek om die waterdispuut te help oplos, ook nog nie die stad besoek nie.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, stem nie saam dat R449 miljoen einde Junie aan Bloemwater verskuldig was nie.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie het Sondagoggend gesê hy is bewus daarvan dat inwoners in veral Pellissier, maar ook elders in Bloemfontein, waterprobleme ondervind. Ook hy het nie daarin geslaag om die stadsbestuurder in die hande te kry nie, het hy net ná 12:00 gesê.

Kido Thoabala, woordvoerder van Bloemwater, is verskeie kere om kommentaar gebel, maar het nie haar telefoon beantwoord nie.

Meer oor:  Bloemwater  |  Qondile Khedama  |  Rossouw Botes  |  Bloemfontein  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.