Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Onderhoude vir pos van Kaapse 1ste burger uitgestel

Die DA se interne onderhoude met die kandidate vir die burgemeesterpos van Kaapstad is uitgestel nadat probleme met die paneel Vrydag kop uitgesteek het.

’n Paneel, onder voorsitterskap van Helen Zille in haar hoedanigheid as voorsitter van die DA se federale raad, moes op 12 April onderhoude gevoer het met Dan Plato, huidige burgemeester, Geordin Hill-Lewis, DA-LP, en Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en LUR vir vervoer en openbare werke.

Siviwe Gwarube, woordvoerder van die DA, het Dinsdag gesê probleme het Vrydag opgeduik toe die pas aangestelde ombud, Werner Horn, besluit het dat die federale regskomitee eers klagtes moet ondersoek wat op die interpretasie van die federale regulasies betrekking het.

Siviwe Gwarube, woordvoerder van die DA. Foto: Gallo Images

Gwarube het verduidelik dat die paneel wat die onderhoude voer, uit tien lede van die federale raad, vyf lede van die provinsiale raad en vyf lede van die streekraad, in dié geval die Kaapse munisipaliteit, bestaan.

Ingevolge die DA se kandidaat-regulasies is daar kriteria waaraan elke paneellid moet voldoen, soos dat familielede nie ’n lid mag wees nie omdat dit botsende belange sal veroorsaak.

“Al die lede van die paneel moet nagegaan word om te verseker dat dit ’n regverdige proses is,” het Gwarube gesê.

Nadat sekere lede probleme in die bewoording van die regulasies uitgewys het, spesifiek die term “botsende belange”, het Horn besluit dat die federale regskomitee eers die klagtes moet ondersoek en besluit wat die regte interpretasie van die regulasies is voordat die paneel finaal bevestig kan word.

Gwarube het gesê die regulasies sluit nie raadslede uit nie, maar daar moet geen botsende belange wees wat die onderhoudsproses kan benadeel nie.

As voorbeeld het sy gesê indien ’n raadslid baie nou saamwerk met een van die kandidate, kan dit moontlik tot botsende belange aanleiding gee.

Daarom moes die klagtes na die ombud verwys word sodat ’n onafhanklike persoon dit kan oorweeg en ’n aanbeveling kan doen. Dus kon die onderhoude nie Maandag gevoer word nie.

“Ek kan ongelukkig nie sê hoe lank hierdie proses gaan duur voordat ons met die onderhoude kan begin nie,” sê sy.

Sy het nie gesê watter paneellede hierdie kwessies geopper het nie.

Meer oor:  Da  |  Helen Zille  |  Siviwe Gwarube  |  Kaapstad  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.