Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Ons sal moet sluit,’ sê sakelui in Bfn oor kragprys

Bloemfonteiners braak gal oor die Mangaung-metro se buitensporige verhoging in elektrisiteitstariewe van 13,07% wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) vir die metro goedgekeur het. Dit het op 1 Julie van krag geword.

Die meeste huishoudings sukkel om krag te bekostig, terwyl talle sake-eienaars sê dat hulle nou hul deure sal moet toemaak.

’n Bloemfonteinse sakevrou sê waar sy altyd in die somer tussen R10 000 en R12 000 se voorafbetaalde krag vir haar onderneming gekoop het, gaan dit dié maand R18 000 beloop.

’n Elektrisiën van die stad sê hy betaal nou 46c meer per eenheid vir voorafbetaalde krag as vroeër vir sy huishouding.

Lele Mamatu, woordvoerder van Centlec, het bevestig dat die kragprys van 1 Julie af met 13,07% gestyg het, en sê wintertariewe wat hierby gevoeg word, geld tot die einde van Augustus. 

Ons sê al lankal dat mense met Mangaung se tariewe uit hul huise en ondernemings geprys word.

“Wintertariewe is nou R1,80 vir 1 tot 350 eenhede en R2,18 vir 351 eenhede opwaarts per eenheid. Somertariewe is R1,45 per eenheid van 0 tot 350 eenhede en wanneer 350 eenhede oorskry word, is dit 168c per eenheid.”

Hy sê alles wat Centlec gedoen het, is volgens wet.

“Nersa het vir Centlec die prysstyging van 13,07% goedgekeur en Centlec het ’n openbare deelnameproses gevolg om die inwoners se toestemming te kry.”

Hans Britz, DA-raadslid en oud-finanshoof van die metro, sê inwoners betaal tot in Mei die somertarief. “Van 1 Junie tot 30 Junie geld die wintertarief wat op verlede jaar se wintertarief bereken word. Van 1 Julie tot 31 Augustus geld die wintertarief, wat op grond van die nuwe boekjaar se tarief bereken word. Van September tot Mei geld die somertarief wat op die huidige boekjaar se tariewe bereken word. 

“Daar is dus vier tariefveranderings in ’n kwessie van vier maande.

“Ons sê al lankal dat mense met Mangaung se tariewe uit hul huise en ondernemings geprys word.”

Hy sê hy kon tot dusver nie op die internet vind dat Nersa die 13,07%-verhoging aan Mangaung goedgekeur het nie.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester (ANC), het nie haar oproepe geantwoord toe sy drie keer gebel is nie.

Prof. Fief van der Merwe, DA-raadslid, sê feitlik elke inwoner van Bloemfontein kla oor die geweldige hoë tariewe. “Nie net bejaardes nie, maar ook sake-eienaars.

“Omdat talle ondernemings nie meer die hoë huurgeld en tariewe kan bekostig nie, trek hulle in Dan Pienaar in, maar ook in baie ander dele van Bloemfontein waar sakeondernemings onwettig in woonbuurte bedryf word.”

Hy sê dit is ontstellend dat die geweldige styging in tariewe die afgelope paar jaar die gevolg van swak beplanning en finansiële bestuur is, wat daartoe gelei het dat Mangaung se skuld wat nie ingesamel is nie, nou al R5 miljard beloop.

Die finansiële departement van die metro laat ook toe dat sommige mense se water- en kragrekenings tot R250 000 ophoop.

Die finansiële departement van die metro laat ook toe dat sommige mense se water- en kragrekenings tot R250 000 ophoop.

* In Tshwane (Pretoria) waar groot ontevredenheid oor die kragtariewe heers, het die VF Plus ingegryp en ’n voorlegging aan Nersa gaan doen.

Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die openbare rekeningekomitee in die Tshwane-metroraad, sê die VF Plus het verskeie klagtes ontvang nadat die nuwe voorgestelde kragtariewe vir die Tshwane-metro wel op 1 Julie geïmplementeer is, al het Nersa dit volgens bronne op 28 Junie afgekeur.

Hy het Maandag gesê die VF Plus verwelkom die aankondiging van die burgemeester van Tshwane, Stevens Mokgalapa, dat die stad nie sal voortgaan om die nuwe kragtariewe te implementeer alvorens Nersa nie goedkeuring daarvoor gegee het nie. 

Die besluit is in pas met die VF Plus se voorlegging aan Nersa dat die vorige jaar (2018-’19) se goedgekeurde tariewe as die vertrekpunt gebruik moet word.

Die VF Plus het in sy voorlegging aan Nersa ’n balans voorgestel tussen die metroraad se behoeftes en dié van die verbruiker wat reeds in terme van hul besteebare inkomste en stygende lewenskoste onder druk is.

Nersa het die tariewe afgekeur wat die metroraad ingedien het, maar die stad het aanvanklik besluit om voort te gaan om die tariewe op 1 Julie 2019 vir die verbruikers van voorafbetaalde krag te implementeer. Die VF Plus het hom van die besluit gedistansieer.

Die VF Plus se voorlegging is nou goed deur Nersa ontvang en het die volgende ingesluit:

  • dat nie genoegsame en behoorlike navorsing gedoen is rakende die nuwe struktuur en die impak wat dit op die verbruiker sal hê nie. Die vraag is wat die rasionaal was vir die voorgestelde vaste tarief van R56 vir gewone verbruikers en R250 vir landbou-verbruikers; 
  • dat die voorgestelde vaste tarief in geheel geskrap word; en
  • dat die vorige jaar (2018-’19) se struktuur (vier blokstruktuur) wat deur Nersa goedgekeur is, gebruik word en slegs met ’n kombinasie van inflasie (4,5%) en die Nersa-riglyn van 13,07% aangepas word.

Nersa het die metroraad sewe dae gegee om die uitstaande inligting aan hom te verskaf waarna ’n finale besluit geneem sal word.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.