Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Ontbind ‘arrogante’ raad, vra Bloem-inwoners

Die lede van die Mangaung-metroraad in Bloemfontein is uiters “arrogant” en die raad moet ontbind word omdat hy nie na die behoeftes van die inwoners luister nie. Die lede is bloot daar vir selfverryking.

So het verteenwoordigers van inwonerorganisasies gekla op ’n vergadering met agt adjunkministers en die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela. Op dié vergadering in die stad is die raad se model van distriksontwikkeling met die “vennote” bespreek.

Inwoners wou weet waarom die nasionale regering nóg geld aan die nuwe Hauweng-busdiens van die Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GOVN) bestee as R1,1 miljard van R1,4 miljard se nasionale befondsing al bestee is en daar nog géén bus loop nie?

“Boonop het Bloemfontein slaggate so groot soos waskomme in uiters gehawende paaie en die rioolwater loop uit erwe in strate af,” het hulle gesê.

Mangaung
Lede van die Valke se ondersoek-eenheid na ernstige korrupsie in die Vrystaat het verlede jaar die personeel van die metro met grawe, harke, besems en pikke gaan help om die stinkende Hertzog-plein in Bloemfontein se middestad skoon te maak. Foto: Mlungisi Louw

Die plan met die ontwikkelingsmodel, waarvolgens die land ontwikkel moet word, is deur pres. Cyril Ramaphosa bedink. Dit is in die Staatskoerant afgekondig en ministers en adjunkte is aangestel om metro’s en distriksmunisipaliteite daarmee te help.

David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, en Dikeledi Magadzi, adjunkminister van vervoer, is aangestel vir Mangaung waar hulle die impak van die Covid-19-pandemie en geslagsgegronde geweld moet kom beveg. Hulle moet ook alle sfere van die regering saamtrek tot voordeel van die inwoners en om dienslewering te verbeter.

Ntombela het van haar LUR’e, Motshidisi Koloi (openbare werke, infrastruktuur en menslike nedersettings) en Makalo Mohale (ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake), aangewys as die plaaslike beyweraars wat saam met die twee adjunkministers moet werk.

Maar op Dinsdag se vergadering was nie net die twee betrokke adjunkministers teenwoordig nie, maar nog ses het opgedaag. Hulle was Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, Pinky Kekana, adjunkminister van kommunikasie en digitale tegnologie, Phumulo Masualle, adjunkminister van omgewingsake, bosbou en visserye, Maggie Sotyu, nog ’n adjunkminister vir omgewingsake, bosbou en visserye, en Boitumelo Moloi, adjunkminister van indiensneming en arbeid.

Mohale het gesê dienslewering is uiters belangrik as ’n mens die geïntegreerde konsep van die “Een Plan” wil inspan om die regering te versterk en om te keer dat die verskillende regeringsfere in silo’s werk.

“Die gedagte is ook om saam te werk vir ekonomiese herstel.”

Inwoners het hulle egter sterk teen die “arrogante metroraad” uitgespreek en gevra dat die raad ontbind word en dat adv. Tankiso Mea, geskorste stadsbestuurder, “nooit ooit weer toegelaat sal word om aan die hoof van die metro se administrasie te staan nie”.

03 February 2020 NUUS VOLKSBLAD Democratic Allianc
'n Straat in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Hulle het ook vir twee forensiese ondersoeke gevra: een oor hoe alle grondtransaksies in die laaste klomp jare in Bloemfontein plaasgevind het, en nog een oor wat met al die geld gebeur het wat vir die openbare busdiens gegee is.

Verteenwoordigers van inwonerorganisasies het ook hul kommer uitgespreek oor die kragverspreider Centlec se “onbillike praktyke” en ’n toelae van R300 miljoen wat die nasionale regering by Mangaung wil terugvat omdat dit nie bestee is nie.

Themba Zweni, een van die leiers van die Mangaung Concerned Community-groep wat onlangs vir die onluste en “sluiting” van Bloemfontein verantwoordelik was, het vir die paneel adjunkministers gesê die waarnemende burgemeester, Andries Morake, is nie op die regte manier in die pos aangestel nie en hy meen dit is ’n groot probleem.

“Ons het ook onlangs ’n 15-jarige seun begrawe wat ten tyde van die onluste doodgeskiet is.

“Iemand het met sy lewe geboet toe ons géén keuse meer gehad het as om met onluste vir die regering te sê ons kan nie meer saamleef met die hoë ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes wat sedert 2016 dramaties die hoogte ingeskiet het nie.”

Hy het gesê die raad is “arrogant” en respekteer nie die belange van die inwoners nie en die regering en metro luister nie na die mense nie.

Ons het selfdienende raadslede met geen politieke wil om dienslewering te verbeter nie

“Ons het selfdienende raadslede met geen politieke wil om dienslewering te verbeter nie. Hulle stem vir R100 000 om mekaar te begrawe, wyl hulle net R2 810 vir ’n armlastige se begrafnis wil gee.”

Gemeenskappe word altyd uitgesluit as dit by besluite kom, het hy gesê.

“Vullissakke hoop weke lank op die sypaadjies op omdat die vragmotors nie diesel het nie.

“As dit reën, is veral township-paaie onrybaar.”

Zweni het ook gesê: “Julle hou aan geld in ’n bodemlose put pomp, want die huidige administrasie en politici by die Mangaung-metro het nie die vermoë om dienslewering te verbeter nie.

“Die vrot by die munisipaliteit bly net ophoop!”

Meer oor:  David Mahlobo  |  Sisi Ntombela  |  Bloemfontein  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.