Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Onwettige besetters kan nie dienste eis, sê Kaapse metro

“Dit is heeltemal onredelik om onmiddellike dienste te eis, veral in gebiede wat nooit geoormerk is om menslike nedersettings te bou nie.”

So sê die Kaapstadse metro oor die ongekende toename in veral grootskaalse, beplande, onwettige grondbesettings wat sedert verlede jaar ondervind word nadat die staat van inperking in werking getree het.

Volgens die metro is die meeste van die onlangse onwettige besettings in gebiede wat nooit vir menslike nedersettings bedoel was nie. Die sluit gebiede in soos padreserwes, vleilande en waterbewaringsdamme, asook natuurreservaatgrond waar daar geen infrastruktuur vir basiese dienste is nie.

Malusi Booi, Wes-Kaapse burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, sê tussen Januarie en Desember verlede jaar het die metro 16 733 onwettige strukture en 82 853 penne, wat gebruik word om erwe vir onwettige besetting af te pen, verwyder.

Malusi Booi, Wes-Kaapse burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings. Foto: Verskaf

Volgens Booi is daar in die provinsiale Driftsands-natuurreservaat, wat nie aan die metro behoort nie, sowat 10 500 wonings gevestig.

“Sowat R1,3 miljard van ons behuisingsprojekte word bedreig. Ons het groot projekte verloor, naamlik in Kraaifontein, waar betogings Woensdag plaasgevind het weens dienslewering, en in Khayelitsha,” sê Booi.

Booi sê die Covid-19-pandemie het mense behoeftig gelaat en dit het onwettige grondbesetting laat opvlam.

“Dit word ook aangedryf deur presedente van die hof wat die metro en grondeienaars verhinder om gebruik te maak van die regsbeginsel van teen-spoliasie om grond teen onwettige besetting te beskerm,” sê Booi.

Hy sê die haglike en wanfunksionele toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie raak ook alle gemeenskappe. “Daar word gekyk na stadsregerings om verligting te gee, maar daar is perke aan wat ’n stadsregering of munisipaliteit eintlik kan doen om die diepgewortelde maatskaplik-ekonomiese kwessies in die land reg te stel.”

Die onwettige besetting van grond is ’n onwettige daad, maar die metro sal altyd poog om die menslike behoeftes wat hierdie aktiwiteit aanmoedig te takel.

Die afdeling vir menslike nedersettings het 98% van sy ontwikkelingstoelae vir stedelike vestiging (USDG) in die 2019-’20-boekjaar bestee. Die afdeling vir water en afval het 94% van sy USDG vir dié boekjaar bestee.

“Dit wys dat die geld bestee word aan die programme waaraan dit bestee moet word,” sê Booi.

Xanthea Limberg, Wes-Kaapse burgemeesterskomiteelid vir water en afval, sê die lewering van basiese dienste is uitdagend as inwoners onwettige huise op enige grond bou.

“Ons mag ook nie sonder toestemming dienste installeer op grond in private besit nie. In sulke gevalle kan ons slegs dienste installeer op die periferie, op grond wat deur die metro besit word,” sê sy.

Daar word geraam dat dit sowat R200 miljoen sal kos om dienste, waar dit moontlik is, te verskaf in gebiede wat pas onwettig beset is.

Booi sê die beplande projekte waarvoor begroot is, gaan voorkeur kry. Daar word tans ’n opname van alle onwettig besette gebiede oor die metro heen gedoen.

Die metro het ’n raamwerk vir onwettige grondbesetting opgestel as ’n manier om die uitdagings van die grootskaalse onwettige besettings proaktief te bestuur.

“Die onwettige besetting van grond is ’n onwettige daad, maar die metro sal altyd poog om die menslike behoeftes wat hierdie aktiwiteit aanmoedig te takel,” sê Booi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.