Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Oos-Kaapse munisipaliteite skuld Eskom meer as R1 mjd.

Die gesamentlike skuld van munisipaliteite in die Oos-Kaap aan Eskom het nou die R1 miljard-kerf verbygesteek.

Dié donker prentjie is Woensdag in die provinsiale wetgewer deur Xolile Nqatha, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), geskets in reaksie op vrae van Vicky Knoetze, DA-woordvoerder oor Cogta in die Oos-Kaap.

Volgens Nqatha het 11 munisipaliteite se gesamentlike skuld op 19 November R1 101 074 549,61 beloop.

Die Enoch Mgijima-munisipaliteit is die grootste sondaar met ’n uitstaande rekening van R309 374 177,91.

Die ander munisipaliteite met die grootste skuld is:

* Walter Sisulu – R222 434 154,38

* King Sabata Dalinyebo – R165 512 670,24

* Raymond Mhlaba – R148 006 933,75

* Inxuba Yethemba – R121 827 459,12

’n Terugbetaalplan tussen Eskom en van die munisipaliteite wat geld skuld, is in werking gestel, maar net die Makana en Great Kei hou by die afbetalingsooreenkoms.

Die munisipaliteite Enoch Mgijima, King Sabata Dalinyebo en die Dr. Beyers Naudé besef blykbaar steeds nie die erns van die saak nie. Hulle hou nie by die afbetalingsooreenkoms soos wat Eskom vereis nie.

Die res van die munisipaliteite het nog nie planne in werking gestel om hul skuld te betaal nie.

Knoetze waarsku die wanbetaling aan Eskom kan daartoe lei dat inwoners binnekort ure aaneen sonder krag sal wees.

Eskom het reeds kennisgewings uitgereik oor sy plan om die kragtoevoer af te sny na die munisipaliteite wat nie hul skuld vereffen of by die afbetalingsooreenkoms hou nie.

Volgens Nqatha het hy in November met amptenare van die munisipaliteite met die grootste skuld gepraat en ’n ooreenkoms is bereik om vergaderings tussen Eskom en die munisipaliteite te belê. Taakspanne is ook saamgestel om onder leiding van Cogta die vergaderings te behartig.

Eskom sal volgens Nqatha in Desember begin om rekeningdispute van munisipaliteite aan te hoor. ’n Plan oor hoe die skuld afbetaal kan word, sal ook gemaak word.

Maar Knoetze meen na aanleiding van die LUR se antwoorde is dit duidelik dat Cogta geen duidelike plan het om die munisipaliteite te ondersteun en by te staan nie, en ook nie van plan is om enige amptenare verantwoordelik te hou vir die chaos nie.

“Dit is totaal onregverdig om die inwoners te straf vir die administrasie se mislukking om vir Eskom te betaal.

“Die DA glo nie die geld wat aan Eskom geskuld word sal geïn word deur krag na die munisipaliteite af te sny nie. Dit sal net die verbruikers straf wat reeds vir hul elektrisiteit betaal het.”

Sy het ook ’n beroep gedoen dat daar gou opgetree word teen amptenare en politici wat vir die agterstand verantwoordelik is en dat geld wat vir Eskom geoormerk is, dadelik oorbetaal word.

“Die situasie is kommerwekkend vir inwoners, plaaslike sakeondernemings, die toerismebedryf en diegene wat kwesbaar is. Die afsny van krag sal ’n negatiewe inpak hê op die ekonomie van die betrokke munisipaliteite, wat reeds finansieel swaarkry.”

Meer oor:  Skuld  |  Munisipaliteite  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.