Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Optog teen ‘vernietiging van Kimberley’ gehou
Sinkhuise in die Lethabopark- informele nedersetting staan in die rioolwater. Foto: Verskaf

Inwoners van Kimberley sal Donderdag onder die vaandel van die Kimberley Action Group ’n optog teen die Sol Plaatje-munisipaliteit hou.

Kagiso Boyce Makodi, stigter van die aksiegroep, het gesê die optog, wat om 09:00 vanaf die Kemo Hotel begin, is uit protes teen die voortslepende diensleweringprobleme in die stad en die omstandighede waaronder die inwoners moet lewe.

“Ons veg oor ’n saak wat die lewe vir almal ondraaglik maak: Die gebrek aan dienslewering, om in riool te moet lewe, duur en onbetroubare kragvoorsiening en gebrekkige toegang tot skoon water. Ons paaie is in ’n bedenklike toestand. Die lys gaan net aan en aan,” het Makodi Woensdag gesê.

Hy het beklemtoon dat die stad se inwoners oor hierdie kwessies ’n verenigde front moet vorm.

Rioolwater stroom uit langs die Laerskool Beacon. Foto: Verskaf

“Ons hoofdoel is om die vinnige agteruitgang en vernietiging van ons stad en die groter gemeenskap deur die Sol Plaatje-munisipaliteit te stop. Wat algemeen voorkom, is dat private belange oorheers terwyl die plaaslike bevolking in armoede verkeer en in rou riool moet lewe.”

Kimberley ondervind weer sedert Sondagaand watertekorte en die inwoners het teen Dinsdag in rye gestaan om water te koop.

’n Waterkundige en eienaar van JJ Enterprises and Projects, Bernard Vermaak, wat meer as 23 jaar ondervinding in watersuiwering het, het gesê elke inwoner se regte ingevolge die Grondwet word geskend.

Hy het gesê die watersektor word deur wetgewing beheer wat streng standaarde stel waaraan enige organisasie moet voldoen wat water aan gemeenskappe verskaf.

“Indien nie aan daardie standaarde voldoen word nie, word die menseregte geskend van elkeen wat daardie water gebruik.”

Vermaak het gesê navrae aan die munisipaliteit word voortdurend met verskonings oor gebarste pype, swak infrastruktuur of ’n swak ontwerpte stelsel begroet.

Vullis wat langs die Laerskool Masiza in Magodastraat ophoop. Foto: Verskaf

Geld wat sogenaamd vir die oplos van die probleme beskikbaar gestel word, word elders aangewend, terwyl die infrastruktuur nie herstel of in stand gehou word nie, het hy gesê.

Hy is veral bekommerd oor waterbronne wat deur die onwettige storting van rou riool besmet word.

“Baie van die rioolaanlegte en pompstasies funksioneer nie behoorlik nie en daar word nie teen die verantwoordelike instansies opgetree nie.”

Vermaak het gesê etlike arm huishoudings word gedwing om gesuiwerde water by ondernemings te koop, maar dié water kan ook nadelig vir mense wees.

Hoewel dié ondernemings aan dieselfde wetgewing onderwerp word en die kanse skraal is dat bakterieë in die water gevind sal word, word belangrike metale en soute ook uit die water verwyder wat nadelig vir die mens kan wees.

“Dit kan jou immuunstelsel aantas sodat jou liggaam jou nie teen siektes kan beskerm nie.”

Rioolwater vloei vrylik in ’n straat in Roodepan en loop by die omliggende huise in. Foto: Verskaf

Meer oor:  Munisipaliteite  |  Kimberley  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.