Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Oudtshoorn kry R30 m. vir verligting van droogte

Oudtshoorn se munisipaliteit het R30 miljoen vir die verligting van die droogte van die nasionale tesourie en die nasionale rampbestuursentrum ontvang.

Die geld maak deel uit van R974 miljoen wat aan die Wes-Kaapse regering vir rampherstelprogramme in die provinsie bewillig is.

Die Koos Raubenheimerdam by Oudtshoorn is 44% vol. Foto: Verskaf

Oudtshoorn is in Augustus weens die dorp se benarde watersituasie as ’n droogterampgebied deur die stadsraad verklaar. Die Koos Raubenheimerdam was toe net meer as 30% vol. Die damvlak het intussen tot 44% gestyg, sê die Oudtshoorn-munisipaliteit in ’n verklaring.

Colan Sylvester, die burgemeester, het die befondsing verwelkom. Hy het gesê die onus is nou op die stadsraad om te bepaal hoe die geld ten beste aangewend kan word.

Maandag op ’n stadsraadsvergadering is twee aanbevelings aan die raad voorgehou. Geen besluit is nog geneem nie.

Die eerste opsie was die Blossoms-projek wat ’n nood-pypleiding vanaf Blossoms na die westelike reservoir op Oudtshoorn behels.

Volgens Allen Paulse, Oudtshoorn se munisipale bestuurder, beloop die koste van die Blossoms-projek egter R80 miljoen en kan die geld nie daarvoor gebruik word nie omdat dit te min is.

Paulse het gesê die befondsing vir droogteverligting kon nie geweier word nie.

“Ons sal moet ondersoek instel na ander opsies wat met die beskikbare geld ’n impak op watertekorte sal hê of verdere befondsing aansoek doen.”

’n Tweede opsie – ’n grondwaterprojek by Jan Fourieskraal of Waterkloof – is ook aan die stadsraad voorgehou. Dit behels die boor van water en meegaande toerusting om die water met ’n pyplyn van 6 km na ’n waterbehandeling-aanleg te pomp. Daarvandaan sal dit in die Klein-Karoo-watervoorraadskema se pyplyn oorgepomp word. Die projek se koste beloop sowat R30 miljoen.

Die projek se volhoubaarheid moet egter nog bepaal word, en dit sal ook deur die nasionale tesourie goedgekeur moet word.

Die stadsraad het beslis dat die departement van tegniese dienste egter nog opsies moet ondersoek wat op 16 Oktober op ’n spesiale raadsvergadering voorgelê moet word.

Meer oor:  Nasionale Tesourie  |  Oudtshoorn  |  Fondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.