Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Padwerke by Ashton, Montagu tot later in 2021 uitgerek
Die Ashton-brug in die Wes-Kaap word vervang as deel van die opknappingswerk aan die R60 by Ashton en die R62 by Montagu. Dié padwerke sal nou na verwagting in Junie 2021 voltooi word nadat daar reeds in 2015 daarmee begin is. Foto: Wes-Kaapse departement van openbare werke

Bouwerk aan die R60 by Ashton en die R62 by Montagu in die Kaapse Wynland is met ’n verdere drie maande verleng en sal na verwagting in die middel van Junie 2021 voltooi word.

Intussen sal ’n stop-ry-stelsel op die R62 in Kogmanskloof vir die grootste deel van die jaar van krag bly en gaan ’n tweede “kort” stop-ry-stelsel in die nabye toekoms in die omgewing van die Swellendam-afdraai vereis word.

Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het Vrydag gesê dat die stop-ry-stelsel voor die ingang na Montagu oor die Voortrekkerbrug einde verlede jaar opgeskort is.

Die bouwerk, wat noodsaaklike werk aan die Ashton-brug insluit, het vandeesweek hervat ná die vakansie. Dié projek het al in 2015 begin.

Dit behels onder meer dat die R60 deur Ashton wyer gemaak word, ’n skouer van 1,5 m vir die R62 deur Kogmanskloof aangebou word en die herbou van byna ’n kilometer van Van Riebeeckstraat in Montagu.

Daarby word die Ashton-, Boy Retief- en Voortrekker-brug vervang, beskerming teen erosie en verspoeling by die Billy Loftus- en die Van der Merwe-brug aangebring, die stormwaterstelsels en straatligte in Montagu en Ashton opgeknap en nuwe dienste aangelê.

Padwerke op die R62 in Kogmanskloof tussen Ashton en Montagu sal vanjaar voortduur en stop-ry-stelsels in die pas vereis. Dié foto is in Desember 2019 geneem.

Werk aan die projek het ’n terugslag beleef toe die kontrakteur, Basil Read, in Junie 2018 onder sakeredding geplaas is.

’n Tussentydse kontrakteur is aangewys om werk aan die Ashton-brug en elders voort te sit totdat ’n nuwe kontrakteur aangestel word.

Haw & Inglis Civil Engineering het in Mei 2019 die bouwerk oorgeneem om die projek te voltooi en die departement het in September verlede jaar gesê dat die projek teen Maart 2021 voltooi sal word as alles vlot verloop.

Jandré Bakker, kommunikasiehoof van die provinsiale departement, sê die R62 tussen Ashton en Montagu is in die 1950’s laas herbou en die pad het die einde van sy lewensduur bereik.

“Dit het onvermydelik agteruitgegaan tot die punt dat voortdurende instandhouding benodig is om bruikbaar te bly. Die volume van verkeer op dié pad het ook oor die jare aansienlik toegeneem.”

Verbeterings in die ontwerp van voertuie en verkeersveiligheidsregulasies het verder vereis dat die ontwerpstandaard van die pad vernuwe moet word om by te dra tot beter verkeersvloei en voetgangersveiligheid en om meer bestand teen oorstromings in die Kogmanskloofrivier te wees.

Gevolglik was dit nodig dat die drie brûe herbou word, sê Bakker.

Sowat 100 ton staal en 600 kubieke meter beton is gebruik om die boë van die nuwe Ashton-brug te bou. Die dek van die brug word deur staalkabels van 350 m ondersteun wat aan die betonboë vasgeheg is.

Die werk aan die pad deur Ashton laat verkeer in twee rigtings toe, maar die padwerke in Kogmanskloof vereis twee semipermanente stop-ry-stelsels van tot 2,5 km.

Die gemiddelde vertraging van verkeer deur Kogmanskloof is 15 minute, maar dit kan tot 40 minute in spitstyd bereik, luidens die departement se verklaring in September.

’n Skouer van 1,5 m word vir die R62 in Kogmanskloof tussen Ashton en Montagu aangebou en ’n klipmuur langs die pad is deel van die padwerke aan die R60 en R62 in dié gebied.

Meer oor:  Padwerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.