Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Pandemie het afbakening vertraag, hoor komitee

Weens die Covid-19-pandemie sal die onafhanklike munisipale afbakeningsraad nou eers in November sy verslag oor die wyke vir volgende jaar se plaaslike verkiesing aan die Verkiesingskommissie (OVK) kan oorhandig.

Muthotho Sigidi, hoof van die afbakeningsraad, het Dinsdagoggend op ’n aanlyn vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê die plan was aanvanklik om dit vandeesmaand nog te doen.

Die verkiesing kan kragtens die wet nie later as 24 Augustus 2021 plaasvind nie. Die vorige plaaslike verkiesing was in Augustus 2016.

Die raad sê sy werksaamhede moes noodgedwonge aangepas word toe pres. Cyril Ramaphosa die nasionale ramptoestand weens die pandemie op 23 Maart afgekondig het.

In daardie stadium het die afbakeningsraad – wat die grense van wyke in samewerking met munisipaliteite bepaal – nog net munisipaliteite in vier van die nege provinsies, die Oos-Kaap, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap gekonsulteer.

Uit die 213 munisipaliteite in die land is tegniese konsultasie oor die afbakening met 109 afgehandel.

“In daardie stadium was Ekurhuleni-metro die enigste munisipaliteit in Gauteng wat gekonsulteer is,” het Sigidi aan die vergadering gesê.

Openbare konsultasies het in Februarie begin. Gesprekke word nou aanlyn met die oorblywende 104 munisipaliteite gedoen.

Die afbakeningsproses het in 2018 begin. Wanneer die grense van die 2 321 wyke landwyd in November aan die OVK oorhandig is, kan dié organisasie met die voorbereidings vir die verkiesing begin.

In daardie stadium was Ekurhuleni-metro die enigste munisipaliteit in Gauteng wat gekonsulteer is.

Sigidi sê die afbakeningsraad glo hy sal gereed wees om die verslag teen November in te dien.

Die komitee het ook by dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, gehoor voorleggings oor wysigings aan die Kieswet is reeds aan die kabinet gedoen.

Dié wysings moet gedoen word nadat die konstitusionele hof in Junie beslis het sekere dele van die Kieswet is ongrondwetlik omdat daar nie voorsiening gemaak word vir onafhanklike kandidate om aan die nasionale en provinsiale verkiesings deel te neem nie.

Die hof het die parlement twee jaar tyd gegee om die wet te wysig. Die volgende algemene en provinsiale verkiesing moet in 2024 gehou word.

Motsoaledi sê ’n interministeriële komitee sal die voorgestelde wysigings vandeesweek op ’n vergadering bespreek. As dit goedgekeur word, sal die proses vir openbare kommentaar begin, voordat die wysigingswetgewing voor die parlement sal dien.

Meer oor:  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.