Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Phalaborwa op Kersdag sonder water, elektrisiteit

Duisende inwoners van Phalaborwa in Limpopo is reeds meer as vier dae lank sonder water en elektrisiteit.

Weens die water- en elektrisiteitskrisis in die dorp is die algehele gevoel onder inwoners dat die plaaslike regering hulle weereens in die steek gelaat het.

Emile van Rooyen, inwoner van Phalaborwa, sê dié stand van sake is niks nuuts vir hom nie. “Hierdie probleem kom nou reeds geruime tyd. Ons hoor keer op keer leë beloftes, maar niks word gedoen nie. Die omstandighede waaronder ons leef, kom nou al vir ons as normaal voor,” sê hy.

Volgens Van Rooyen is hy reeds sedert Donderdag sonder water en is die kragtoevoer wisselvallig.

’n Vriendin van Marietjie Maré, wat graag anoniem wil bly, skep Sondagmiddag water vanuit Maré se swembad om huis toe te neem. Foto: Verskaf

“Mens kan nie eers behoorlik stort nie. Ek weet van baie mense wie se planne op Kersdag geaffekteer is deur die watertekort,” sê hy.

Van Rooyen sê hy vang water uit sy lugverkoelingstelsel op, en gaan koop ook water soos hy benodig.

Vanuit plasings op die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit se Facebook-blad blyk dit of Phalaborwa se waterprobleme die gevolg is van elektrisiteitsprobleme wat op hul beurt veroorsaak word deur foutiewe kragkabels en omdat die waterstelsel modder in gekry het.

“Dit is onaanvaarbaar! Die dorp is in chaos gelaat weens die watertekort,” sê Marietjie Maré, inwoner.

Sy sê die dorp se waterprobleme kom nou al “reeds 25 jaar” aan.

“Die munisipaliteit en die waterraad doen nie hul werk behoorlik nie,” sê sy.

Maré sê haar water is reeds sedert Kersoggend af en haar elektrisiteit sedert Donderdag. “My elektrisiteit het darem gisteraand (Saterdagaand) laat weer aangekom. Maar my water is steeds af,” sê sy.

Ook haar Kersdagplanne is omver gegooi weens die water- en elektrisiteittekort. “ ’n Mens kon nie eers kook nie. Die ergste is al die winkels was toe gewees en mens kon nie eers water gaan koop op Kersdag nie,” sê sy.

Sy sê sy en haar gesin gebruik nou die swembad se water vir die huishouding. “Ons bad in die swembad en ons gebruik ook die swembad se water om toilette te spoel. Ek kan ongelukkig nie die water gebruik om kos te kook nie, want die swembad het soutwater,” sê Maré.

Sy sê die munisipaliteit het ’n watertrok wat in die dorp rondbeweeg waar mense water kan kry.

Sybrandt de Beer, DA-raadslid in Phalaborwa, stem saam met inwoners dat die plaaslike regering mense in die steek laat. “Ons het bykans elke dag ’n waterkrisis. Dit kom nou al jare aan,” sê hy.

Hy sê kommunikasie van die plaaslike regering af is ook baie swak. “Die feestyd maak dit ook moeiliker om beamptes in die hande te kry,” sê hy.

De Beer sê inwoners kan gerus wees dat elektrisiteit in die hele dorp binnekort herstel sal wees.

“Die water is egter ’n ander saak. Die munisipaliteit het ons gister (Saterdag) ingelig dat kragtoevoer binne 24 uur herstel sal wees. Daardie 24 uur is nou verby. Daar is egter steeds dele wat nie water het nie. Volgens die munisipaliteit is die herstelproses nou verleng weens ’n gebarste waterpyp,” sê hy.

Die munisipaliteit het Sondagmiddag op sy Facebook-blad bevestig dat verdere probleme ontstaan het gedurende sy herstelwerkproses aan die watertoevoer.

Jonas Mahesu, woordvoerder van die Ba-Phalaborwa munisipaliteit, het nie Sondag Netwerk24 se oproepe beantwoord nie.

Meer oor:  Phalaborwa  |  Water  |  Feestyd  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.