Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Plaaslike regerings kry gou ‘kampioene’

Die regering se distriksontwikkelingsmodel se toetsfase was volgens Jackson Mthembu, minister in die presidensie, so suksesvol dat die model nou landwyd geïmplementeer word – nog voordat LP’s die sukses van die toetsfase kon beoordeel.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en Jackson Mthembu verlede week by die bekendstelling van die distriksontwikkelingsmodel. Foto: GCIS

Die distriksontwikkelingsmodel, wat in 2019 bekend gestel is om regeringsprogramme beter te implementeer op plaaslike vlak, sou aanvanklik by drie distriksmunisipaliteite getoets word voordat dit in Februarie 2021 landwyd ingestel word.

Kabinetslede sou as “distrikskam­pioene” ontplooi word om te sorg dat die munisipale, provinsiale en nasionale regerings saamwerk.

Mthembu het Vrydag in ’n onderhoud met Rapport gesê die toetsfase se doeltreffendheid is “deur en deur bewys”. Daarom word die model nou geïmplementeer.

LP’s wat op die parlementêre komitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) dien, sukkel al maande om inligting oor die toetsfase te kry.

Distrik kry toegang tot nasionale regering.

Cilliers Brink, DA-woordvoerder oor Cogta, het in September in ’n parlementêre vraag vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gevra vir ’n verslag oor die suksesse en mislukkings van die toetsfase, wat by die O.R. Tambo- (Oos-Kaap), eThekwini- (KwaZulu-Natal) en die Waterberg-munisipaliteit (Limpopo) geïmplementeer is.

Dlamini-Zuma het gesê dit is “voortydig” om die toetsfase te beoordeel.

Mthembu, wat verlede week as “kampioen” vir die Harry Gwala-distriksmunisipaliteit in Kokstad, KwaZulu-Natal aangewys is, sê egter die bewyse is beskikbaar en “die plan werk uitstekend”.

“Kom ek gee jou ’n voorbeeld. ’n Hospitaal in die distrik waar ek kam­pioen is, het met sy internetverbinding gesukkel. Die bestuur kontak my toe en ek maak dadelik kontak met minister Stella Ndabeni-Abrahams (minister van kommunikasie), wat die probleem binne ’n week oplos,” sê Mthembu.

“Met hierdie samewerking tussen die plaaslike en nasionale regering het ’n distrik deur sy kampioen nou toegang tot die nasionale regering. Daar kan dus geen vrae oor die doeltreffendheid wees nie.”

Hy kon nie verduidelik waarom LP’s steeds nie ’n verslag oor die toetsfase gesien het nie. Cogta reageer al drie maande nie op Rapport se navrae hieroor nie.

“As daar sulke suksesse behaal is, hoekom word die besonderhede van die publiek en parlement weerhou?” vra Brink. “En as die bewyse wys dat munisipaliteite net verder agteruitgeboer het, waarom word (die model) dan landwyd ingestel?” vra Brink.

Brink sê hy het aanvanklik gedink die distriksontwikkelingsmodel is maar net soos die agt vorige planne vir plaaslike regering wat almal “duur mislukkings” was.

Mthembu het gesê die jongste plan is inderdaad ’n verlenging van vorige planne, maar dit is belyn met die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan.

Brink vrees die ANC wil van alle munisipaliteite verlengings van die nasionale regering maak – ook munisipaliteite wat hul werk doen. “Wat sal byvoorbeeld gebeur as die ontwikkelingsplan van ’n DA-beheerde munisipaliteit nie strook met die strategie van ’n ANC-beheerde provinsie nie? Sal die ANC se distrikskampioen ’n stokkie hiervoor probeer steek?” vra Brink.

Mthembu sê egter die vrese is ongegrond.

“Samewerkende regering beteken ’n beter regering vir almal. Die drie regeringsfere moet in elk geval saamwerk. Dit word so in die Grondwet bepaal,” sê Mthembu.

Volgens art. 152 van die Grondwet moet die nasionale regering verseker dat plaaslike regerings hul mandaat om dienste te lewer uitvoer.

Wat van munisipaliteite wat hierdie dienste self kan lewer?

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het in Julie vanjaar vasgeskop teen die implementering van dié model in sy provinsie, waar 13 munisipaliteite skoon oudits behaal het.

Hy wou by pres. Cyril Ramaphosa weet wat die model gaan kos en wat die “kampioene” se rol is.

Ramaphosa het in Augustus vir Winde geskryf dat die model sal fokus op “samewerking” tussen regeringsvlakke oor kwessies soos geweld teen vroue, waarvan die Wes-Kaap die tweede hoogste voorkoms landwyd het.

Meer oor:  Jackson Mthembu  |  Cilliers Brink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.