Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Plato vra kans om sy eie plan vir Kaapstad te implementeer

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, wil vir ’n verandering ’n hele termyn as burgemeester werk en nié oorneem by ander nie.

Plato, wat die naweek ’n boodskap aan die DA-koukus in die Kaapstad-metroraad gestuur het, sê hy was reeds twee keer die instaan-burgemeester, nou wil hy sy eie visie vir die metro van die begin af daarstel en tot uitvoer bring.

Plato het vir die eerste keer die ampsketting gedra toe hy by Helen Zille oorgeneem het nadat sy die premier van die Wes-Kaap geword het. Die tweede keer was toe Patricia de Lille in die helfte van haar tweede termyn die DA en die metroraad verlaat het, en Plato gevra is om ’n erg verdeelde DA-koukus as burgemeester te probeer verenig.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad. Foto: Jonathan Lestrade/Son

Plato het in sy boodskap aan die DA-koukuslede gesê hy wil sy eerste volle termyn hê, sodat hy die geleentheid kry om sy planne en visie vir Kaapstad in plek te stel “sodat die glorieryke dae van Kaapstad in ’n nuwe post-Covid-19-toekoms herleef kan word”.

Plato sê hy is voorbereid en gewillig om met die DA-koukus in die metro saam te werk en saam ’n nuwe termyn te betree.

Hy sê die twee kere wat hy as burgemeester oorgeneem het, het hy geïntegreerde ontwikkelingsplanne en begrotings van sy voorgangers geërf. “Ek vra vir die geleentheid om op my prestasies voort te bou in ’n volgende termyn waarin ek my visie, wat gegrond is op die ware behoeftes van Kaapstad se inwoners, en my begrip vir die metro ten toon kan stel.”

Hy sê dit kan nie sake soos gewoonlik wees nie – die lewe kan en moet beter wees vir almal. Kwesbare inwoners moet voel dat hulle elke dag wakker word in ’n stad van hoop en geleenthede en belastingbetalers moet voel dat hulle waarde kry vir die bydraes wat hulle maak.

Plato sê daar moet voortgegaan word met die stryd in die howe teen die Menseregtekommissie en die EFF. Die strate van Kaapstad moet teruggeneem word van die “polities gemotiveerde tentdorpe wat al hoe meer word” wat oral opskiet.

Hy sê die metro se eiendom moet beskerm word teen die aanslag van grondbesetting en die metroraad is bereid om die stryd hiervoor tot in die konstitusionele hof te voer.

’n Paneel onder die voorsitterskap van Zille in haar hoedanigheid as voorsitter van die DA se federale raad, sal op 12 April onderhoude voer met Plato en die twee ander kandidate wat meeding om die benoeming as burgemeester, Geordin Hill-Lewis, DA-LP, en Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en LUR vir vervoer en openbare werke.

Meer oor:  Dan Plato  |  Burgemeester  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.