Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Pleidooie vir nul-verhoging in metro val op dowe ore

Die DA het op Dinsdagaand se virtuele raadsvergadering van die Mangaung-metro ’n nul-verhoging op erfbelasting en sanitasie vir die volgende boekjaar, wat vandag begin, voorgestel.

Dié voorstel sou, volgens alle aanduidings, deur die ANC-meerderheid in die raad afgestem word. Teen laataand was die vergadering steeds aan die gang.

Arthur Nathan-swembad
Die Arthur Nathan-swembad, wat tot niet is. ’n Verhoging van 10% in toegangsgeld word in die begroting aangekondig. Foto: Verskaf

Hans Britz, DA-raadslid en oud-finanshoof van die metro, het die voorstel vir ’n nul-verhoging ingedien teen die agtergrond van die impak van die Covid-19-pandemie en die sukkelende ekonomie.

Hy het gesê in die 2018-’19-boekjaar het die werklike inkomste vir die jaar vir erfbelasting en sanitasie die begrote inkomste met R105 miljoen oorskry.

“In die 2019-’20-boekjaar is die werklike inkomste vir erfbelasting en sanitasie weer eens meer as die begrote bedrag.”

Op 31 Mei was die werklike inkomste reeds R89 miljoen meer as begroot.

Britz het gevra dat daar R41,52 miljoen minder begroot moet word vir inkomste uit erfbelasting en dat die sanitasie-inkomste met net R29 miljoen verhoog moet word.

Verder kan die voorsiening vir die afskryf van oninvorderbare skuld met R12,52 miljoen verminder word.

Hy het die ANC gewaarsku dat politieke speletjies oor die DA se voorstel gevaarlik is.

“Daar is op die oomblik ’n WhatsApp-gedrewe aksie om sakeondernemings en huishoudings aan te moedig om betaling vir erfbelasting, sanitasie en vullisverwydering te weerhou. Dit is ’n private inisiatief en alle aanduidings is dat dit ’n vinnig groeiende protesaksie is wat ’n verlammende uitwerking op die finansies van die metro kan hê.”

Britz het gesê die heel slegste scenario is as die inkomstestroom opdroog en krag- en waterinkomste gebruik moet word om salarisse te betaal.

Britz het gewaarsku dat Eskom en Bloemwater as gevolg hiervan hulle dienste sal inkort.

Dit sal die protes laat groei totdat daar nie meer geld is om salarisse te betaal nie.

Britz het die ANC-beheerde raad ook oor die kapitaalbegroting gekapittel en gesê in die afgelope vier jaar is kapitaalbegrotings met ’n waarde van R5,2 miljard goedgekeur.

“Van die geld is net R3,2 miljard bestee, wat beteken dat kapitaaluitgawes van R2 miljard verlore gegaan het. Dit is R2 miljard wat die inwoners van Mangaung aan kapitaalprojekte beloof is, wat nooit plaasgevind het nie.

“Die hartseer saak is dat van R3,6 miljard se toelaes wat van die nasionale regering ontvang is, net R2,1 miljard bestee is.

“Dit beteken dat R1,5 miljard se geskenkte geld verlore geraak het oor jul onbevoegdheid om die goedgekeurde begrotings tot uitvoering te bring.”

Britz het ook gal gebraak oor die skuld van inwoners wat einde Mei op R7,06 miljard gestaan het. “Van dit is R1,53 miljard (21,7%) deur die regering geskuld. Mense redeneer as die regering nie betaal nie, waarom moet hulle?”

Hy het ook gesê die R1,11 miljard in die begroting vir die afskryf van skuld wat voorsien word, kan aansienlik verminder word as die uitstaande skuld ingevorder word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.