Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Potch ‘betaal R53 m. oortyd in net 7 maande’

Die JB Marks-munisipaliteit in Potchefstroom en Ventersdorp het glo sedert Julie verlede jaar tot Januarie vanjaar byna R53 miljoen in oortyd aan werkers betaal.

Die DA vra nou dat die kwessie op ’n spesiale raadsvergadering bespreek word, sê Hans-Jurie Moolman, DA-koukusleier in dié munisipaliteit. “Ons wil die verslag sien oor ’n ondersoek wat die munisipaliteit reeds middel-2019 na oortydbetaling sou begin het.”

Moolman sê die munisipaliteit het van Julie 2019 tot Januarie vanjaar 383 574 uur se oortydbetaling toegestaan. Dit verteenwoordig ’n totale uitbetaling van R52 990 960 in net sewe maande.

“Wanneer ’n mens die syfers ontleed, kom dit daarop neer dat sommige werkers 288 uur per maand oortyd gewerk het,” sê Moolman. “Dit is heeltemal onaanvaarbaar, asook fisiek en verstandelik onmoontlik vir mense om bo en behalwe hul gewone 180 werkure per maand soveel oortyd te werk.”

Wanneer ’n mens die syfers ontleed, kom dit daarop neer dat sommige werkers 288 uur per maand oortyd gewerk het.

Volgens Moolman oorskry die syfers verreweg die wetlike perk van ’n maksimum van 45 toegelate werkure per week vir munisipale werkers. “Ons het al in April 2019 in ’n brief aan die uitvoerende burgemeester (Kgotso Khumalo) en die munisipale bestuurder ons kommer oor die oortydbetalings uitgespreek. Tot dusver het ons nog geen terugvoering gekry nie.”

Moolman sê toe die DA die kwessie hierna op ’n raadsvergadering aanroer, het die munisipale bestuurder erken dat daar “ ’n groot probleem met oortydbetaling is”.

“Hy het gesê die munisipaliteit se ouditverslag het dit ook uitgewys en dat ’n ondersoek daaroor aan die gang is. Dit is nou byna ’n jaar later en die raad het nog geen verslag of terugvoering oor die ondersoek ingedien nie. Intussen lyk dit of die maandelikse oortydbetalings van R2,5 miljoen in 2018 tot ’n verstommende R8,9 miljoen in Januarie 2020 gestyg het.”

Moolman sê dit is “onaanvaarbaar” dat Khumalo en die munisipale bestuur “aanhou om die kwessie te ignoreer”. Moolman het skriftelike bewyse verskaf wat staaf dat die DA die kwessie oor opgeblase oortydbetalings reeds in April verlede jaar aangeroer het. Hy sê die DA gaan dit ook by die departement van arbeid aanmeld om te ondersoek.

“Dit is onaanvaarbaar dat sulke bedrae aan oortydwerk bestee word, terwyl talle poste in die munisipaliteit te midde van die hoë werkloosheidsyfer vakant is. Dit is onverstaanbaar dat die munisipale bestuur ’n werker 1,5 keer of selfs dubbeld per uur vir oortyd vergoed, terwyl die vul van poste teen ’n normale uurlikse vergoedingstarief meer sin maak.”

Dit is onaanvaarbaar dat sulke bedrae aan oortydwerk bestee word, terwyl talle poste in die munisipaliteit te midde van die hoë werkloosheidsyfer vakant is.

Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, sê die ondersoek na oortydvergoeding is in ’n gevorderde stadium en dat dit die DA se volste reg is om ’n spesiale raadsvergadering hieroor byeen te roep.

“Ons beskou die oortydbetalingskwessie in ’n baie ernstige lig. Dit kan nie verskoon word nie.”

Volgens Maphosa het die munisipale bestuurder (weer) die kwessie op die laaste raadsvergadering geopper, en gesê dat die ondersoek reeds in ’n gevorderde stadium is.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Munisipaliteit  |  Oortyd  |  Raadsvergadering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.