Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Potch se munisipaliteit eers later onder administrasie
Verwaarloosde, rommelbestrooide openbare parke in Potchefstroom soos hierdie een by die munisipale swembad is deesdae ’n algemene gesig in die stad. Foto: Susan Cilliers

Die besluit om die JB Marks-munisipaliteit in Potchefstroom en Ventersdorp onder administrasie te plaas is steeds van krag, maar dit gaan nie dadelik in werking gestel word nie, het Vuyisile Ngesi, woordvoerder in die Noordwes-premierskantoor, Sondag gesê.

Kgotso Khumalo, uitvoerende burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit, en ander amptenare by dié munisipaliteit, het Vrydag met die provinsiale regering vergader, het Ngesi gesê.

Hulle het die munisipaliteit se besware teen die provinsiale uitvoerende komitee se besluit vroeg in Mei, om in te gryp ingevolge art. 139 (1) van die Grondwet, bespreek.

Die amptenare glo dit was prosedureel foutief.

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, Motlalepula Rosho, LUR vir plaaslike regering, en ander senior regeringsamptenare het die besware aangehoor, waarna besluit is om ’n tegniese taakspan saam te stel in die hoop om samehorigheid te bewerkstellig, het Ngesi gesê.

Die taakspan bestaan uit amptenare van Noordwes se department van plaaslike regering asook van die JB Marks-munisipaliteit. Die span moet oor twee weke aan Mokgoro verslag doen oor hoe die provinsiale regering en die munisipaliteit sal saamwerk met die ingrepe.

Mokgoro sal hul aanbevelings met die provinsie se uitvoerende komitee bespreek, het Ngesi gesê.

Die DA en VF Plus in JB Marks is ten gunste van die administrasiebesluit weens die verswakking van dienslewering die afgelope jare in Ventersdorp en Potchefstroom. ANC-, EFF- en onafhanklike raadslede is egter daarteen gekant en het op ’n raadsvergadering verlede Donderdag hul meerderheidstem gebruik om Khumalo af te vaardig om beswaar aan te teken.

Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter in JB Marks, sê die afwaartse spiraal van “wanbestuur, korrupsie en die ineenstorting van dienslewering” het vinnig versnel nadat die Tlokwe-munisipaliteit, wat Potchefstroom bedien het, en die Ventersdorp-munisipaliteit in 2016 saamgesmelt het om JB Marks te vorm.

Ventersdorp was toe al bankrot en dienslewering beroerd, terwyl dit nog betreklik goed in Potchefstroom gegaan het omdat die Tlokwe-munisipaliteit reserwegeld gehad het. Intussen is Tlokwe se geld vermoedelik gebruik om Ventersdorp se meer as R300 miljoen skuld te help delg. Die nasionale regering het net R13 miljoen gegee om die samesmelting te finansier. Destyds is wyd aanvaar die samesmelting was om te keer dat die DA beheer oor die Tlokwe-munisipaliteit neem.

Nou is slaggate in paaie, onversorgde openbare ruimtes en voortdurende probleme met vullisverwydering aan die orde van die dag in Potchefstroom. AfriForum maak slaggate reg terwyl daar verskeie ander projekte is waar inwoners self in openbare ruimtes gras sny en ook padtekens verf.

Victor Boqo, Khumalo se woordvoerder, het ná die administrasiebesluit Donderdag gesê “dienslewering verloop glad”, dat nuwe vullistrokke glo reeds gekoop is, gras gesny en slaggate herstel word. Net een van die tien vullisvragmotors werk tans. Boqo het gesê JB Marks is “geldelik lewensvatbaar”.

Rosho het in ’n brief aan dr. Zwelini Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, geskryf JB Marks se ongemagtigde, onreëlmatige en verkwiste uitgawes het van R791 miljoen in die 2016-’17-boekjaar tot R2 miljard in die 2017-’18-boekjaar gestyg. Die munisipaliteit se uitstaande skuld aan krediteure was in Februarie altesame R66 miljoen.

¦ Noordwes se provinsiale uitvoerende komitee het ses ander munisipaliteite in Noordwes ook onder administrasie geplaas ingevolge art. 139 (1). ’n Administrateur sal nou by almal aangestel word, wat in ’n raadgewende hoedanigheid sal probeer om voortslepende geldelike probleme, swak bestuur en diensleweringsprobleme op te los. Die bestaande bestuurskorpse by die onderskeie munisipaliteite sal aanbly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.