Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Probleme in Kimberley reën neer
Dié waterlekplek langs Aristotleweg by ’n ingang na Cassandra, Kimberley, bestaan reeds ver langer as ’n jaar. Foto: Jacques Jansen van Vuuren

Nadat Kimberliete verlede week etlike dae sonder water of vullisverwydering weens hewige reën moes klaarkom, dreig inwoners en sakelui nou om eerder kontrakteurs as die munisipaliteit te betaal, of regstappe te doen.

Hulle is kwaad omdat hulle tydens die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie nie kan was nie en in vullis en verspoelde paaie om hulle heen vaskyk.

Politieke partye het ook met misnoeë reageer en die Sol Plaatje-munisipaliteit van oëverblindery beskuldig.

Opgehoopte vullis in Kimberley se middestad maak dit onooglik en skrik toeriste af, meen die persoon wat dié foto geneem het. Onafgehaalde vullis hoop ook in woonbuurte op. Foto: Sol Plaatje Community Forum/Facebook

Daar was veral hewige reaksie op die munisipaliteit se Facebook-plasing waarin gesê word Patrick Mabilo, uitvoerende burgemeester, het verlede Donderdag “ernstig ingeklim” op ’n vergadering met die burgemeesterskomitee en amptenare om oplossings te vind.

Mense wat kommentaar gelewer het, was nie oortuig dat dié vergadering enige resultate gaan lewer nie.

Die stad se gereelde watertekorte kom oor ’n lang tydperk, terwyl duisende liter skoon water daagliks weens waterlekkasies wegvloei.

In Oktober 2020 het dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, ’n taakspan bestaande uit kundiges aangestel om die munisipaliteit se waterprobleme hok te slaan. In sy provinsiale rede in Februarie 2020 het hy gesê die taakspan werk aan ’n meesterplan om waterprobleme op te los. In Oktober 2019 het die premier ook dringende antwoorde gevra nadat die stad vyf dae lank sonder water was.

Benewens verlede week se watertekort weens ’n foutiewe elektriese kabel by die Riverton-onttrekkingsaanleg, word die watertoevoer snags afgesluit om die opgaardamme by die Newton-aanleg op te vul. Boonop het die munisipaliteit nie verlede Maandag en Dinsdag vullis verwyder nie, weens “deurdringende reën”.

Paaie in Lethabo-park, Kimberley, is onbegaanbaar weens swaar reën. Foto: Sol Plaatje Community Forum/Facebook

Woedende inwoners het op die munisipaliteit se Facebook-blad gesê die “indringende vergadering” was ’n publisiteitsfoefie en dienslewering sal nie verbeter nie. Die probleme waaroor hulle kla, sluit in slaggate, verspoeling, swak paaie, vuil water en ernstige rioollekke.

’n Inwoner van Kagisho het ’n foto van die rioolvuil wat in hul erf en teen hul huis vloei, op Facebook geplaas in ’n poging om hulp te kry. Foto: Sol Plaatje Community Forum/Facebook

Francis Thulo, EFF-raadslid, sê die munisipaliteit neem geen verantwoordelikheid nie omdat ’n ander waarnemende stadsbestuurder elke paar maande aangestel word. Thulo dring daarop aan dat permanente direkteure eerder op ’n kontrakbasis aangestel word.

“Daar word nie beslissend teen werkers opgetree wat kort-kort staak en op oortydbetaling aandring nie. Hulle saboteer die openbarewerke-program. Dié uitgebreide program, waarin meer as 400 werkers betrokke is, werp nie veel vrugte af nie. Die stad kon al baie skoner gewees het en minder probleme gehad het as hulle reg aangewend is. Die stadsbestuur wankel weens ’n politieke magspel.”

Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid, sê die vergadering wat Mabilo gehou het, was nie verteenwoordigend van die hele gemeenskap nie omdat sy party nie daarheen genooi is nie.

“Dit was net ’n gepraat en oëverblindery. Niks gaan verbeter nie, want die werkers en personeel was ook nie teenwoordig nie. Die munisipaliteit het geen idee hoe om daadwerklike planne op te stel, prestasie te beoordeel en regstellende aksie te doen nie. Boonop is die nypende geldtekort en agterstand van instandhouding oorweldigend. Die aanhoudende reën het sake ook verder bemoeilik.

Die gat in Robinsonstraat, Herlear, lê maande reeds oop en kan ’n voertuig erg beskadig en insittendes beseer. Geen waarskuwingstekens is aangebring nie. Foto: Helena Barnard

“Ek het min vertroue dat iets binnekort gaan verbeter.”

Sharon Steyn, uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), sê inwoners en sakelui gaan beslissend teen swak dienslewering begin optree.

“Die munisipalite

Gemeenskapslede in Greenpoint het die afgelope Sondag self ingespring om bome in die Greenpoint-begraafplaas af te saag. Foto: Sol Plaatje Community Forum/Facebook

pye moet inspring om stukkende pompstasies op te knap. Die rioolaanleg wat ook teen miljoene rande opgeknap is, is steeds nie in volle werking is nie. Die munisipaliteit het geen gebeurlikheidsplanne nie, nogal tydens die Covid-19-pandemie waarin almal gemaan word om gereeld hul hande te was.”

Ronel du Plessis, ’n ontstoke inwoner, sê inwoners van Royldene begin regstappe oorweeg.

“Ek nooi regsgeleerdes om te help dat ons soos die inwoners van die Kgetlengrivier-munisipaliteit in die Koster- en Swartruggens-omgewing ook beheer van die water- en rioleringsdienste met ’n regsgeding kan oorneem.”

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê twee foute met elektriese kabels by die Riverton-onttrekkingsaanleg het verlede week die watertoevoer onderbreek.

“Die probleem was nie by die nuwe eenheid se pompe nie, maar by die suiweringseenheid. Die nuwe eenheid het ’n nuwe transformator wat nog nie in werking gestel is nie weens die hoë koste van die elektriese kabels.

“Ons sal binnekort die groot lekplek op die 965 mm-pyplyn van Riverton na die stad te herstel, soos ons ’n paar weke gelede wou doen.

“Wat vullisverwydering betref, is dit onmenslik en ongrondwetlik om van werkers te verwag om in gietende reën te werk. Selfs elektriese werk word weens reën gestaak. Ons haal in ieder geval die agterstand spoedig in.”

Die rioolaanleg is nie in volle werking nie weens vandalisme.

“Die polisie het van die oortreders aangekeer, wat een van ons eie werkers insluit. Hy is borgtog geweier in die saak waarin hy tot 15 jaar tronkstraf opgelê kan word. Dit neem ’n tydjie om toerusting wat gevandaliseer is, te herstel.”

Die munisipaliteit hoop om teen Maart vanjaar toerusting en dienste aan te koop om die Tlageng-dam te herstel wat vloede in Galeshewe veroorsaak.

Meer oor:  Kimberley  |  Munisipale Dienste  |  Probleme  |  Elektrisiteit  |  Eff  |  Vullisverwydering  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.