Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘R10 mjd. se water sypel weg, gesteel’

Plaaslike owerhede verloor jaarliks ’n inkomste van sowat R10 miljard onder meer weens water wat vir primêre gebruik bedoel is, maar weens stukkende pype­ verlore gaan.

Neil Macleod, ingenieur en lid van die Suid-Afrikaanse Akademie van Ingenieurswese (SAAE), het Maandag gesê ingenieurs van dié organisasie het ondersoek ingestel na die verliese wat plaaslike owerhede ly weens ’n gebrek aan instandhouding van waterinfrastruktuur en behoorlike batebestuur.

Plaaslike owerhede verloor die inkomste van sowat 41% van alle water wat uit waterbronne soos damme na verbruikers gepomp word, sê Macleod.

Minstens 31% van die water gaan verlore weens lekkende waterpype en ook die diefstal van water. Nog 10% is water wat gebruik word, maar waarvoor geen behoorlike rekenskap gegee kan word nie omdat dit nie gemeet word nie.

Dit beteken dus dat plaaslike owerhede die inkomste verloor vir 41% van die water wat hulle aan verbruikers verskaf.

Dit kom neer op ’n verlies van sowat R10 miljard per jaar.

Die SAAE skryf in ’n brief aan Thembi Nkadimeng, president van die vereniging vir plaaslike regerings (Salga), dat plaaslike owerhede dringend moet optree om die probleem op te los.

Die ingenieurs skryf in die brief Covid-19 het talle plaaslike owerhede in ’n finansiële verknorsing gedompel. Daarom moedig hulle plaaslike owerhede aan om die kwessie van waterverliese baie ernstig op te neem en planne vir herstel “dringend” in te stel.

As munisipaliteite nie die vermoë of die kapasiteit het om die herstelwerk te doen nie, is daar baie private ingenieurs wat gekontrakteer kan word.

Plaaslike owerhede moet sorg dat watermeters korrekte lesings neem.

Die SAAE stel ook voor dat die departement van water en sanitasie oorhoofs toesig hou oor herstelprojekte en dat Blou Druppel- en Geen Druppel-verslae weer gepubliseer word.

Die organisasie sê hierdie verslae is laas in 2014 gepubliseer.

Volgens die SAAE plaas hy klem op waterverliese omdat Suid-Afrika ’n waterarm land is met ’n jaarlikse gemiddelde van sowat 450 mm reën. Dít is byna die helfte van die wêreld se gemiddelde jaarlikse reënval.

Reënval in Suid-Afrika is ook baie wisselvallig en baie van die reën val nie in die opvangsgebiede van riviere en damme nie.

Die organisasie sê dit kos baie minder om lekkende pype te herstel as om nuwe opgaardamme te bou.

Deur stukkende pype en watermeters te herstel, word boonop krag, asook chemikalieë wat gebruik word om water mee te suiwer, gespaar.

Prof. Elsabe Kearsley, president van die SAAE, sê in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika is dit moontlik om waterverliese tot minder as 25% te beperk.

“As munisipaliteite nie die vermoë of die kapasiteit het om die herstelwerk te doen nie, is daar baie private ingenieurs wat gekontrakteer kan word.”

’n Sterk politieke boodskap is nodig om mense te waarsku dat onwettige waterverbindings onaanvaarbaar is. Sy wys daarop dat verbruikers wat by plaaslike owerhede geregistreer is, meestal vir gesteelde water ook moet opdok.

Sivuyile Mbambato, Salga se woordvoerder, het gesê die vereniging sal later op die brief reageer.

Meer oor:  Omgewing  |  Water  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.