Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
R134 m. se ‘glips’ in Bojanala se rekening ondersoek

Hoe het dit gebeur dat ’n provinsiale regeringsdepartement in Noordwes R134 miljoen verkeerdelik by ’n distriksmunisipaliteit se rekening inbetaal het?

En wat het die Bojanala-distriksmunisipaliteit in die Rustenburg-omgewing met R84 miljoen daarvan gedoen?

Dít is die vrae wat die Valke in Noordwes nou moet ondersoek nadat Job Dliso, voorsitter van die provinsie se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), op ’n strafregtelike ondersoek én tugstappe teen amptenare aangedring het.

Noordwes se departement van menslike nedersettings het die geld reeds in Maart verlede jaar verkeerdelik in Bojanala se rekening inbetaal, terwyl dit eintlik aan die Rustenburg-munisipaliteit vir behuisingsprojekte betaal moes word. Amptenare van Bojanala het glo dadelik sonder ’n raadsbesluit ’n rekening vir die geld geopen.

Die verskoning dat dit ’n menslike fout was, hou nie steek nie.

Dliso het die afgelope week behoorlik in ’n voorlegging oor dié growwe onreëlmatighede voor die nasionale staande komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake mond uitgespoel. Hy is veral omgekrap omdat die “fout” blykbaar reeds ’n maand ná die inbetaling ontdek is, maar daar tot dusver nog geen gevolge vir die verantwoordelike amptenare was nie.

“Geen stappe is gedoen teen amptenare van menslike nedersettings wat die foutiewe inbetaling gemaak het nie,” sê Dliso in sy voorlegging. “Nie die departement, munisipaliteit óf tesourie het toegesien dat daar verantwoordbaarheid is vir die gebruik van die geld en dat dit gebruik word waarvoor dit geoormerk is nie. Die verskoning dat dit ’n menslike fout was, hou nie steek nie. Ons kan nie ’n presedent skep dat geld gebruik word sonder dat rekenskap daarvoor gegee kan word nie.”

Kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder in Noordwes, het Vrydag bevestig dat die gebeure ondersoek word, maar het gesê nadere besonderhede kan nie bekend gemaak word terwyl die ondersoek nog aan die gang is nie.

Korrupsie moet in die kiem gesmoor word. Ons verwelkom die ondersoek. Die betrokke amptenare moet verantwoordbaar gehou word.

De Wet Nel, VF Plus-LPW in Noordwes en ’n lid van Noordwes-Skoor, sê dis “onaanvaarbaar dat ’n staatsdepartement ’n R134 miljoen-betaling as ’n ‘foutjie’ afmaak sonder dat enige tugstappe gedoen word”.

“Korrupsie moet in die kiem gesmoor word. Ons verwelkom die ondersoek. Die betrokke amptenare moet verantwoordbaar gehou word.”

In Dliso se voorlegging aan die nasionale komitee skryf hy dat die Noordwes-Skoor eers bewus geword het van die foutiewe oorbetaling aan Bojanala toe onder meer die munisipaliteit en die provinsiale tesourie dit op 30 Oktober 2019 op ’n terugvoersessie voor Skoor laat blyk het. Dít nadat die finansiële bestuurder van die departement van menslike nedersettings Bojanala reeds in April 2019 opdrag gegee het om die R134 miljoen terug te betaal. Bojanala kon egter net R50 miljoen oorbetaal. Dis nie duidelik waarvoor die oorblywende R84 miljoen gebruik is nie, maar die geld is eindelik uit die distriksmunisipaliteit se proporsionele fiskale toedeling terugbetaal.

Bojanala het teen September 2019 sulke ernstige geldelike probleme ondervind dat werkers nie betaal kon word nie en hul pensioen- en mediese fondsbydraes nie oorbetaal is nie.

Nel het Vrydag gesê daar word vermoed dat die R84 miljoen onder meer gebruik is om salarisse te betaal en selfs bespiegelinge dat van die geld vir spyseniering gebruik is.

“Die groot vraag is waarop die geld bestee is, want dit het nie deel van Bojanala se begroting uitgemaak nie.”

Dit alles is egter nou deel van die Valke-ondersoek.

Die Bojanala-distriksmunisipaliteit het nie Vrydag op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.