Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
R32 miljoen bewillig ná brand by Kommetjie

Sowat R32 miljoen is beskikbaar gestel om tydelike strukture, water- en sanitasiegeriewe te verskaf aan sowat 6 000 inwoners van Masiphumelele wat deur ’n verwoestende brand geraak is.

Die gebied is tot ’n rampgebied verklaar nadat 1 000 strukture op 17 Desember deur die brand vernietig is, lui ’n gesamentlike verklaring van die nasionale en provinsiale departemente van menslike nedersettings, asook die Kaapstad- metroraad.

Masiphumelele is tussen Vishoek en Kommetjie.

Kinders van die Masiphumelele-township kyk waar strukture in ’n brand op 17 Desember verwoes is. Foto: Jenna Lemmer

“Van die inwoners sal op ’n nabygeleë sportveld gehuisves word, terwyl ander gehelp word op ’n deel van die gebied wat reeds skoongemaak is. Die oprigting van die tydelike strukture sal onmiddellik begin,” lui die verklaring.

“Tydens ’n besoek verlede week aan die Masiphumelele-gemeenskap het Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, meer as 1 100 kospakkies, matrasse en komberse aan die betrokkenes laat uitdeel.

“Die kospakkies, wat uit niebederfbare items bestaan, moet ’n gesin van vier vir twee weke voed. Dit is benewens die ruim skenkings wat van die publiek en organisasies ontvang is.”

Die behuisingsontwikkelingsagentskap beplan intussen om 420 wooneenhede op die Masiphumelele-terrein te bou.

Inwoners probeer hul besittings red ná die verwoestende brand. Foto: Jenna Lemmer

Nog 656 eenhede sal gebou word deur die Kaapstad-metroraad en sal water- en sanitasie-dienste insluit.

Luidens die verklaring sal plaaslike mense vir die bouprojek gebruik word.

’n Besluit is ook geneem om die helfte van Masiphumelele, wat in ’n vleiland geleë is, af te sper omdat “water ’n skaars bron is wat beskerm moet word”.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, sê hulle het gepraat met leiers in die gemeenskap van Masiphumelele en hul insette het baie gehelp.

Elders het ’n brand in die vroeë oggendure van die nuwe jaar in die informele nedersetting Taiwan in Khayelitsha uitgebreek en 500 inwoners is geraak.

Omdat die plek so dig bevolk is, is dit moeilik om hulp daar te bied, lui die verklaring.

“Mense wat geraak is, word in ’n nabygeleë kerk gehuisves terwyl die terrein skoongemaak word.

“Intussen is die humanitêre organisasie Gift of the Givers op die perseel om kos te verskaf aan die gesinne wat geraak word. Sassa het ook ’n lys van die betrokke lede gekry vir verdere hulp.”

Sisulu sê die ramp daar was byna onafwendbaar.

“Die basiese beginsel van bouwerk maak voorsiening vir ’n brandmuur. Dit word egter nie gedoen in dié nedersetting waar daar geen ruimte tussen strukture is nie.”

Meer oor:  Masiphumelele  |  Kommetjie  |  Brand  |  Ramptoestand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.