Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
R6,5 m. se heining om Naval Hill ‘het min nut’

Inwoners van Inneslaan in Bloemfontein sê ’n heining van R6,5 miljoen wat die Mangaung-metro-munisipaliteit om Naval Hill span, beteken nie veel nie en is eintlik oorbodig.

Die nuwe heiningdraad wat om Naval Hill in Bloemfontein gespan word, word nie vasgepak of onder behoorlik geanker nie en bokkies kruip onderdeur. Foto: Verskaf

Dié inwoners bekommer hulle oor die klein bokkies van die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill wat gedurig in die drade vassit, tussen die ou heining en die nuwe heining vasgekeer word, of onder die draad deurkruip om die honde in Inneslaan ten prooi te val.

Omdat die nuwe heining nie aan die onderkant behoorlik aan die grond geheg is of vasgepak word nie, kruip die honde boonop sonder probleme onderdeur.

Ook bosslapers ondervind min moeite om in die reservaat te gaan oornag.

Gustav Swanepoel, ’n inwoner van Inneslaan, sê die ou heining was nog altyd voldoende en wat hom betref, moes dit net nagegaan en herstel word.

“Die heiningdraad by my erf het gehang, maar dit kon weer styf en regop getrek en behoorlik geanker word.”

Swanepoel sê hy weet nie wat die doel van die nuwe heining is nie.

“Gaan al die bokke en kameelperde van die Bloemfonteinse dieretuin hierheen verskuif word? As koedoes hierheen gebring gaan word, is die nuwe heiningdraad vir seker te laag.”

Hy sê hy weet ook nie of die draad reg gespan word nie. Die ankerpale lyk swakkerig en is straks te ver van mekaar geplant.

“Die heining skep nie die indruk dat dit stewig is nie.”

Hy sê die meeste inwoners van Inneslaan twyfel of die nuwe heining regtig nodig is.

Bokkies kruip onder die nuwe draad deur en sit tussen die ou en nuwe heining vas.Foto: Verskaf
Tankiso MeaFoto: Netwerk24
Pieter Lotriet, DA-raadslid.Foto: Netwerk24
Die foto wys waar die bokkies onder die nuwe heining om Naval Hill deurkom. Foto: Verskaf
Bokkies kruip redelik maklik onderdeur die nuwe heining van die Mangaung-metro rondom Naval Hill.Foto: Verskaf

Hulle weet ook nie of die draad net by sekere probleem-gedeeltes dubbeld gespan word nie.

Hy sê in September en Oktober het bokke gereeld in die heining vasgesit.

Naby sy huis het ’n rottweiler ’n bok gekarnuffel en twee keer gebyt.

Swanepoel sê sover hy weet is die metro al twee maande besig om die draad te span.

Hy kla dat van die hoekpale van die nuwe heiningdraad ook al omgetrek is.

Inwoners van Inneslaan het al ’n WhatsApp-groep gestig om mekaar oor die welstand van die bokkies ingelig te hou.

* Volgens adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, vervang die nuwe heining die oue.

Hy het in antwoord op formele vrae van Pieter Lotriet, DA-raadslid van die metro, gesê die regte voorkeur-aankopeproses is gevolg en dat die kontrakteur deur die regte kanale aangestel is.

Hy het nie die vraag geantwoord oor of daar ’n vooraf-raadplegingsproses was nie.

Die werk aan die heining het volgens hom 12 nuwe werksgeleenthede geskep, terwyl nog ses mense moes help om bome te snoei.

Die doel van die omheiningsdraad is om die diere van die stad veilig in die natuurreservaat te hou, sê hy.

Volgens Mea verval die kontrakwerk op 28 Februarie 2020.

Meer oor:  Naval Hill  |  Bloemfontein  |  Heining
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.