Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Raad glo nie geken in R50 m.-belegging by VBS

Die Madibeng-munisipaliteit in die Brits-omgewing, Noordwes, het R50 miljoen by die omstrede VBS-bank belê, glo sonder dat die raad daarin geken is.

Volgens SP Motswenyane, die DA se woordvoerder oor openbare rekeninge in Noordwes, het Madibeng se burgemeester, Jostina Mothibe, onlangs aan die provinsiale regering te kenne gegee dat sy eers bewus geword het van dié belegging toe die geld vir dienslewering benodig is.

“Dit dui op die totale gebrek aan leierskap en die versuim om wette (wat munisipale bestuur reguleer) te eerbiedig,” sê Motswenyane. “Ons gaan Zweli Mkhize (minister van samewerkende regering en tradisionele sake) nou vra om by die munisipaliteit in te gryp.”

Montswenyane sê Mothibe moet verantwoordelikheid aanvaar vir die probleme in Madibeng omdat sy nie politieke leiding gegee het vir die begrotingsproses en prioriteite soos wat die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur van burgemeesters vereis nie.

Jostina MothibeFoto: Verskaf

Volgens Motswenyane word Mothibe van betrokkenheid by korrupsie beskuldig, onder meer omdat daar maandeliks glo R141 000 bestee word om vir haar ’n motor te huur. “Dis skokkend, die munisipaliteit skuld Eskom R40 miljoen en Randwater R60 miljoen. Ons kan nie langer toekyk hoe die burgemeester haar flambojante leefstyl met die mense se geld befonds nie. Dis nou tyd dat sy rekenskap gee en aangekla word van die growwe wanbestuur van geld.”

Diensleweringsprobleme is al vir jare aan die orde van die dag in Madibeng. Die agentskap Ratings Afrika het dit vroeër vanjaar as die swakste munisipaliteit in die land aangewys.

Oproeriges het juis Woensdag na die munisipale kantore in Brits opgeruk weens hul frustrasies oor watervoorsiening.

Tumelo Tshabalala, Madibeng se woordvoerder, sê Mothibe het as politieke hoof van die munisipaliteit niks met die bestuur van geldsake te doen nie en dat dit dus verkeerd is om haar van wanbestuur van geld te beskuldig.

“Nadat die belegging van R50 miljoen by VBS aan die lig gekom het, het ’n onafhanklike forensiese maatskappy dit ondersoek en bevind die burgemeester was nie daarby betrokke nie. Ons kon R20 miljoen van die belegging terugkry, maar het die res verloor.”

Nadat die belegging van R50 miljoen by VBS aan die lig gekom het, het ’n onafhanklike forensiese maatskappy dit ondersoek en bevind die burgemeester was nie daarby betrokke nie. Ons kon R20 miljoen van die belegging terugkry, maar het die res verloor.

Tshabalala sê die burgemeester gebruik ’n vlootvoertuig, maar hy kon nie bevestig wat haar voertuig maandeliks kos nie omdat dit deel van die groter vloot is.

Hy sê die probleem met die watertoevoer waaroor glo betoog is, het sowat ’n week gelede ontstaan nadat ’n pyp gebars het. “Dit is intussen herstel en die water het van Maandag tot Woensdag begin terugkom.”

Tshabalala sê die raad hoef nie individuele beleggings goed te keur nie omdat dit raadsbeleid is dat die geldhoof dit sonder hul toestemming kan doen. 

* Altesame 33 mense is Woensdag in Mathibestad, sowat 80 km van Brits, in hegtenis geneem weens openbare geweld nadat ook hulle oor watertekorte betoog het, het brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê. Hulle het glo onder meer ’n gemeenskapsaal aan die brand gesteek in dié dorp wat deur die Moretele-munisipaliteit bedien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.