Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Raad skop ANC-burgemeester én bestuurder uit

Die ANC-burgemeester Stephen Koalane van die Vrystaatse Masilonyana-munisipaliteit se kop het Vrydagmiddag saam met dié van Pule Tsekedi, munisipale bestuurder, gerol.

Op ’n spesiale raadsvergadering van Masilonyana (Theunissen, Brandfort, Winburg en Verkeerdevlei) wat op Brandfort gehou is, is Koalane en Tsekedi uit hul stoel gelig nadat verreweg die meeste ANC-raadslede saam met die opposisieraadslede gestem het om hulle te verwyder. Sowat 200 lede van die gemeenskapsforum het met busse opgedaag en ook by die raadsvergadering kom druk toepas.

Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, (Cogta), stem saam met die stap waarin die burgemeester en munisipale bestuurder verwyder is.

Stephen Koalane, nou uitgeskopte burgemeester van Masilonyana. Foto: Argief

“Ons het na die gemeenskap geluister wat baie ontevrede was. Daar was protesoptogte oor swak dienslewering en paaie soos die N1 was gesluit.”

Koalane was onder meer etlike jare gelede saam met Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal (SG) van die ANC, op ’n reis na Kuba.

Dit is boonop die tweede Vrystaatse burgemeester van die Ace Magashule-faksie wat uitgeskop word nadat Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, vroeër ná ’n VF Plus-mosie verwyder is.

Intussen word die kop van Nkosinjani Speelman, burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit (Welkom), ook geëis met die gemeenskap wat ’n optog vir 28 Mei.

Die gemeenskap vra ook dat Matjhabeng (Welkom) se burgemeester Nkosijani Speelman moet gaan.

Speelman is ook van die Magashule-faksie en ’n vergadering is onlangs by hom gehou om Magashule in sy krisis te ondersteun.

Dit kom nadat Kgotso Khumalo, die JB Marks-munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp) se burgemeester, ook die afgelope week onder druk bedank het oor ’n strafregtelike klag waardeur hy in die gesig gestaar word waarby sowat R5 miljoen betrokke is.

Nxangisa sê die raad het Xolisa Nqwiliso as waarnemende burgemeester in Masilonyana en vir Michelle Sello as waarnemende munisipale bestuurder aangestel.

Marieta Visser, DA-raadslid van Masilonyana, sê die DA verwelkom die feit dat daar uiteindelik van Koalane ontslae geraak is van wie hulle al drie jaar gelede gesê het dat hy nie geskik vir die burgemeesterspos is nie. Tsekedi, wat volgens die raads- en gemeenskapslede nie die vereiste kwalifikasies gehad het nie, se verwydering word ook deur die opposisie verwelkom.

Marieta Visser Foto: Argief

Volgens Visser was daar 15 van die 19 raadslede op die spesiale raadsvergadering. Masilonyana se raad bestaan uit 12 ANC-lede, vier DA-lede, twee EFF-lede en een lid van die VF Plus. Die vier wat nie teenwoordig was nie, is die ANC-burgemeester en nog ’n lid van die ANC, een van die DA en die een van VF Plus, wat om verskoning gevra het.

Sowat 70 van die 200 gemeenskapsforumlede, het die vergadering bygewoon en die res het buite gewag.

Visser sê wat Vrydag gebeur het, kom drie jaar nadat die DA die aanstelling van Koalane as burgemeester teengestaan het, gegrond op sy “afskuwelike” rekord as burgemeester. Hy was twee vorige termyne ook Masilonyana se eerste burger.

“Die ANC het sy aanstelling op die raad afgedwing ondanks die feit dat daar beslissende regsbesware voor die raad gebring is.”

LUR Thembeni Nxangisa. Foto: Argief

Sy sê in die geval van Tsekedi is ’n brief gedateer 23 Julie 2018 van dr. Zweli Mkhize, die toenmalige minister van Cogta, vorendag gebring, waarin hy vir Oupa Khoabane, oud-Cogta-LUR inlig dat die munisipale bestuurder nie die toepaslike vereiste kwalifikasies het nie.

“Die brief is gerieflikheidshalwe geïgnoreer,” sê Visser.

Visser sê Tsekedi se gebrek aan geskikte kwalifikasies was ook duidelik in die wyse waarop hy die munisipale sake hanteer het.

“Dit was nie ’n verrassing dat ANC-kaderontplooiing weer eens voorkeur bo die wet en bo die belange van die inwoners geniet het nie,” sê sy.

“Koalane en Tsekedi se leierskap is gekenmerk deur onvolhoubare skuldvlakke, finansiële verwoesting en ’n onvermoë om die mees basiese dienste te lewer.”

Die brief van dr. Zweli Mkhize, destydse minister van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.