Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Raadslid ry lyfplank in strate waar metro nie lekke herstel
DA-raadslid Johan Pretorius van die Mangaung-metro in Bloemfontein op sy lyfplank in Van Wyklaan in Bainsvlei. Foto: Mlungisi Louw

Nadat die Mangaung-metro glo vir maande versuim het om waterlekke hier te herstel, het strate in die Bainsvlei-hoewegebied in Bloemfontein in riviere van drinkwater verander waar ’n mens nou lyfplank kan ry.

Die DA se hoofsweep in die Mangaung-metro, Johan Pretorius, voeg daad by die woord en wys hoe hy met ’n lyfplank in dié strate swem.

Pretorius sê daar is groot waterlekke op die hoek van Van Eedenweg en Van Wyklaan in Bainsvlei – waar ’n geraamde 20 000 liter gesuiwerde water per uur verlore gaan – en in Jordaanlaan, nie ver daarvandaan nie. Die twee waterlekke is ’n straatblok uitmekaar.

“Ek is siek en sat daarvoor dat die hoewegebiede by Bloemfontein altyd aan die agterspeen suig as dit by dienslewering van die metro kom.

“Dit is nou al langer as twee maande dat drie bestuurders en die departementshoof van die metro se departement van paaie en stormwater herhaaldelik bewus gemaak is van die probleem.

“Hulle het elke keer onderneem om die waterlekke te herstel, maar ná die eerste maand wat ek gekla het, het twee van die bestuurders nie meer hul telefone beantwoord nie.”

Pretorius sê hy hoop dat die huidige ondersoek na beweerde wanbestuur deur die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, vinnig afgehandel word “sodat ons bekwame mense in die senior poste by die metro kan kry”.

Pretorius sê dit is tyd dat die koste van die verlore water van die amptenare se salarisse afgetrek word, want dan sal lekke gou herstel word.

Hy het ook gesê die hoewepaaie verniel meer as sulke damme water ontstaan, terwyl die metro nie die paaie in stand hou nie.

Johan Pretorius, DA-raadslid van die Mangaung-metro, wys op sy boogiebord hoeveel water al sedert 3 Maart in Van Wyklaan in Bainsvlei opgedam het as gevolg van waterlekke wat nie herstel is nie. Foto: Mlungisi Louw

Amanda van Oudtshoorn, wat op die hoek van Van Eedenweg en Van Wyklaan bly, sê hulle het die waterlek al op 3 Maart by die munisipaliteit aangemeld.

“Ons het die saak nog twee keer daarna opgevolg. Ek het ook die probleem op Facebook geplaas op ’n blad waarop mense oor diensleweringsprobleme in Mangaung kan kla.

“Ek is goed deur die ander mense op die blad ondersteun en ook deur die DA-raadslid, maar daar kom steeds geen oplossing nie.”

Sy sê die water het al ’n kilometer ver in Van Wyklaan opgedam en loop ook by bure se erwe in. “Dit is ook nie die enigste lekkasie in Bainsvlei nie.”

In Jordaanweg vloei die water al drie maande lank weg, sê sy.

DA-raadslid Johan Pretorius op sy lyfplank in die oorstroomde Van Wyklaan in Bainsvlei. Foto: Mlungisi Louw

Gerrie, haar man, sê “dit is ’n dramatiese waterlek en letterlik miljoene liter gesuiwerde water het al hier weg-gevloei. Die helfte van Van Wyklaan is onder water.”

Volgens sy berekenings kon die water wat van 3 Maart af hier uitgelek het, die hele Bloemfontein vir drie uur lank van water voorsien het.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het gesê hy is nie bewus van die probleem nie en het gevra dat Netwerk24 foto’s vir hom aanstuur sodat hy die saak kan opvolg.

Mea het nie sy telefoon geantwoord nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.