Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Randfontein: ‘Gaan sit jul vullissakke voor munisipaliteit’

Die voorsitter van AfriForum se tak in Randfontein aan die Wes-Rand het inwoners uitgenooi om Vrydag hul rommel in swart vullissakke voor die Rand West-munisipaliteit se kantore te gaan pak.

Matiam van Vuuren, voorsitter van AfriForum in Randfontein, sê dit word gedoen uit “pure desperaatheid” oor die munisipaliteit se swak dienslewering.

Rommel lê oral in ’n veld in Randfontein weens die afgelope twee weke se munisipale staking. Foto: Verskaf

Volgens hom is Randfontein se rommel vir die afgelope twee weke nie verwyder nie omdat munisipale werkers gestaak het.

Die staking, wat glo oor salarisverhogings gegaan het, het alle afdelings van die munisipaliteit geraak.

“Om te sê ons is gatvol, is ’n understatement. Die rommel word oral gestrooi en die honde skeur die sakke stukkend. Dit is chaos. Daar word vir dienste betaal, maar daar is nie dienste nie.

“Die staking is miskien verby, maar die werkers het nog nie begin werk nie,” sê hy.

Inwoners in Randfontein is omgekrap omdat hulle ly onder swak dienslewering. Foto: Verskaf

Volgens hom het hy huishoudings gevra om hul rommel in swart vullissakke voor die stadsraad se kantore te gaan neersit. Hulle moet egter nie ingange versper of eiendom beskadig nie, sê hy.

“As die raadslede so wil leef, kan ons hulle help. Genoeg is genoeg. Ek baklei elke week met die stadsraad oor dienste.”

Tshidiso Thlaripe, munisipale woordvoerder, sê hulle is in die proses om die werkers se eise te oorweeg en ’n komitee, wat bestaan uit drie lede van die werkers, Samwu-lede en die munisipale bestuur, gaan op die been gebring word om die kwessie te bespreek en te ondersoek.

“Ons is ook in die proses om regsadvies in te win om ’n interdik teen die stakers te kry sodat hulle kan terugkeer werk toe. Die staking het ’n hewige impak op dienslewering en versuur ons verhouding met ons gemeenskappe.

“Ons kon vir twee weke nie vullis verwyder nie, en ons gemeenskappe betaal daarvoor. Ons is besig om met Samwu te praat om hul lede te laat terugkeer werk toe, maar as dit misluk, gaan ons kyk om private kontrakteurs in te kry om die werk te doen,” sê hy.

Thlaripe het inwoners om verskoning gevra omdat hulle die slagoffers van ’n loongeskil tussen die munisipaliteit en sy werkers geword het.

Meer oor:  Afriforum  |  Randfontein  |  Vullisverwydering  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.