Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Rede tot kommer vir DA in Johannesburg’

Die feit dat die DA drie wyke in Woensdag se munisipale tussenverkiesings in die Johannesburg-metro afgestaan het, moet vir die party rede tot kommer wees in die aanloop tot volgende jaar se plaaslike verkiesing.

Dit is veral omdat Herman Mashaba se Action SA-party waarskynlik dan ’n rolspeler in die verkiesing sal wees.

Dit is die mening van Levy Ndou, ’n politieke kenner aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria.

Mashaba is ’n voormalige DA-burgemeester van Johannesburg wat verlede jaar uit die DA bedank het. Verskeie ander DA-lede het hulle intussen by sy nuwe party aangesluit.

Dr. Bheki Mngomezulu van die Universiteit van Kaapstad, ’n kenner op die gebied van plaaslike politiek, meen ook Action SA kan – as hy sy probleme om as politieke party geregistreer te word, kan oorkom – baie kiesers by die DA afrokkel.

Hy sê die ANC het Woensdag baie goed gevaar in Gauteng, en die DA nie.

Ndou meen onsekerheid by talle kiesers oor die DA se beleid het ook moontlik daartoe bygedra dat die DA twee wyke aan die ANC afgestaan het – in wyk 16 (Evaton) in Emfuleni (Vaaldriehoek) en wyk 120 (Lenasia-Suid) in Johannesburg.

Die DA het ook een elk aan Al Jama-Ah (Lenasia) en die Patriotic Alliance (Riverlea), albei in Johannesburg, afgestaan.

Die DA se aandag was boonop die laaste ruk baie gefokus op sy eie leierskapsverkiesing, sê Ndou.

Hy sê voorts dit is belangrik dat opposisiepartye wat die ANC wil onttroon, kandidate moet stel wat baie goeie kennis van – en oplossings het – vir die uitdagings van die betrokke wyk. Alle wyke se uitdagings is nie dieselfde nie.

Daar was in Gauteng 14 tussenverkiesings in ses munisipaliteite.

Roland Henwood, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria, sê dit sal baie interessant wees om te sien wat sal gebeur as tussenverkiesings ook nou in ander metropolitaanse gebiede soos Tshwane (Pretoria) en Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) moet plaasvind, omdat die plaaslike omstandighede landwyd verskil.

Tussenverkiesings het nie in Tshwane plaasgevind nie omdat dié metro tot twee weke gelede nog onder administrasie was. Die DA en sy koalisievennote beheer nou weer dié metro.

Meer oor:  Da  |  Tussenverkiesings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.