Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Staatsgebou loop deur onder plunderaars

Groot skade is aangerig toe die Thusanong-gebou in Bloemfontein vandeesweek geplunder is. Die dakplate, ruite, vensterrame, binne-afwerkings, elektriese bedrading en deure is weggedra.

Dié gebou, aan Dr. Belcherweg, staan sedert 2016 leeg nadat die departement van maatskaplike ontwikkeling verhuis het.

Die Thusanong-regeringsgebou ná die plundering die afgelope week. Foto: Marietjie Gericke

Dévar Smit, VF Plus-lid in die wetgewer, sê in ’n verklaring die Vrystaatse departement van openbare werke en infrastruktuur, wat staatsgeboue bestuur, moet verduidelik waarom die Thusanong-gebou al sedert 2016 onbenut staan.

Hy sê dit is onder die VF Plus se aandag gebring dat plundering die afgelope week by dié gebou, in die woonbuurt Heidedal, begin het.

“Die Thusanong-gebou is in die verlede as kantoor vir die departement van maatskaplike ontwikkeling gebruik, maar staan leeg sedert dié departement in 2016 na ander kantore verskuif het weens maatskaplike werkers se ontevredenheid met die haglike omstandighede in die gebou.”

Smit sê die VF Plus het ’n skriftelike vraag in die wetgewer aan Motshidisi Koloi, die LUR vir openbare werke en infrastruktuur, gerig oor die agteruitgang van staatseiendom en afwesigheid van veiligheidsmaatreëls by die gebou.

“Die polisie word ontbied om die plundering stop te sit, maar die plunderaars vlug en kom terug sodra die polisie weg is,” sê Smit.

“Die VF Plus eis dringende ingryping van die departement van openbare werke en infrastruktuur om voortslepende plundering van staatseiendom te bekamp en staatseiendom ten volle te benut.”

Verskeie mense het Netwerk24 oor die plundering gebel. Met Netwerk24 se aankoms by die gebou, was mense steeds besig om goed uit die gebou te dra.

* Mlungisi Maqubela, woordvoerder van die Vrystaatse departement van openbare werke en infrastruktuur, sê sover hy weet is daar begroot om die gebou in die huidige boekjaar te herstel en op te knap.

Dit is wat Koloi in haar begrotingstoespraak in die wetgewer gesê het, maar hy weet nie hoeveel geld hiervoor begroot is nie.

“Ons veroordeel alle vorme van vandalisme en gaan onmiddellik uitvind of ons departement se interne sekerheid betrokke was by die beskerming van die gebou en indien nie, wie daarvoor verantwoordelik moes wees.

“Ons sal ook by die polisie uitvind of enigiemand in verband met die vandalisme in hegtenis geneem is.”

Maqubela het aanvanklik gesê hy was nie bewus daarvan dat die gebou so geplunder word nie. Hy het dit as “barbaarsheid” beskryf.

“Die gebou was afgesper. Niemand het die reg om oor heinings te klim of in te breek en dit te plunder nie,” het hy by navraag gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.