Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
SA paaie: ‘Stryd word verloor’

Meer as die helfte van Suid-Afrika se grondpaaie en ’n derde van sekondêre teerpaaie is in ’n swak tot baie swak toestand.

Luidens ’n navorsingsverslag oor sekondêre paaie wat deur die konsultante Frost & Sullivan uitgereik is, is daar tekens dat tot ’n kwart van die padnetwerk in metropolitaanse gebiede besig om na ’n swak toestand en baie swak toestand te verswak omdat die paaie nie in stand gehou word nie. Die provinsiale regerings in die Oos-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes is ook besig om die stryd te verloor om die agterstand in die instandhoudingswerk van paaie uit te wis.

Paaie wat toegelaat is om in ’n swak toestand te beland, kos drie tot vyf keer meer om te herstel.

’n Grafiek van Frost & Sullivan toon:

  • Slegs 40% van Johannesburg se geteerde paaie is in ’n baie goeie of goeie toestand. Net 20% is in ’n redelike toestand en 40% is in ’n swak tot baie swak toestand;
  • Altesame 50% van Tshwane (Pretoria) se paaie is in ’n baie goeie of goeie toestand, 30% is in ’n redelike toestand en 20% is in ’n swak toestand;
  • Altesame 40% van Ekurhuleni (Oos-Rand) se paaie is in ’n baie goeie of goeie toestand, 20% is in ’n redelike toestand en 40% is in ’n baie swak toestand;
  • Altesame 50% van eThekwini (Durban) se paaie is in ’n baie goeie of goeie toestand, 40% is in ’n redelike toestand en 10% is in ’n swak tot baie swak toestand; en
  • Altesame 80% van Kaapstad se paaie is in ’n baie goeie en goeie toestand, 5% is in ’n redelike toestand en 15% is in ’n swak tot baie swak toestand.

Provinsies se vermoë om die agterstande uit te wis, het boonop ’n knou gekry toe die tesourie hul jaarlikse padinstandhoudingstoelae van R13 miljard met 15% besnoei het.

Dié toelae word verdeel op grond van padtoestande en die grootte van ’n provinsie se padnetwerk. In die 2019-’20-boekjaar is R1,9 miljard (17%) van die toelae aan KwaZulu-Natal toegeken, terwyl die Wes-Kaap R1 miljard (9%) en Gauteng slegs R767 miljoen ontvang het.

Volgens Frost & Sullivan verswak provinsiale padinfrastruktuur al sedert die vroeë 1990’s omdat die nasionale regering en die provinsies hopeloos te min geld aan paaie bestee en daar al hoe minder instandhouding- en konstruksiewerk gedoen word om paaie te rehabiliteer.

“Benewens die gevaar dat nog teerpaaie en grondpaaie se toestand van ’n relatiewe goeie toestand tot baie sleg kan verval, is daar ’n beduidende agterstand om paaie te rehabiliteer. Daar word nie naastenby genoeg geld aan provinsies beskikbaar gestel om die agterstand in die rehabilitasie van paaie te hanteer nie,” lui die verslag.

In die Oos-Kaap beloop die agterstand met die instandhouding van paaie R23 miljard en die Vrystaatse departement van vervoer het in Maart aangedui dat 57% van die geteerde padnetwerk in ’n swak tot baie swak toestand is. Altesame 2 345 km se paaie kort dringend aandag voordat dit in ’n swak toestand verval.

Philip Hendricks, president van die Suid-Afrikaanse Padfederasie, sê volgens amptelike syfers het die agterstand in die instandhouding van die land se padnetwerk in 2014 R197 miljard beloop en volgens ’n studie van die Universiteit van Kaapstad in 2019 beloop dit amper R417 miljard. Paaie wat in ’n swak toestand beland, kos drie tot vyf keer meer om te herstel.

Chris Hunsinger, DA-woordvoerder oor vervoer, sê benewens die besnoeiing van die provinsiale padonderhoudstoelae word die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), wat 21 000 km se sekondêre paaie in stand hou, onregverdig bevoordeel met toelaes teenoor provinsies, wat 73 000 km sulke paaie in stand moet hou. “Sanral se toelaes het die afgelope vyf jaar met R11 miljard gestyg, terwyl provinsies tevrede moet wees met minder geld.”

Hy sê die brandstofheffing word “vermors” op die wanfunksionerende Padongelukkefonds (POF) en behoort gebruik te word om paaie in stand te hou wat sat gery word omdat die spoornetwerk nie werk nie.

Sowat 70% van die land se vrag word per pad vervoer en slegs die helfte van die land se spoorvermoë word ten volle benut, sê die spoorvragoperateur Traxtion Sheltam.

Meer oor:  Instandhouding  |  Paaie  |  Sanral
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.