Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Sakelui woedend oor dam van rioolvuil voor persele

’n Yslik dam vol rioolvuil lê nou al drie weke lank in die nuwe Oos-Einde op die hoek van Rudolf Greyling- en Stockenstromstraat in Bloemfontein en stink.

Klagtes daaroor van die gemeenskap en die betrokke DA-raadslid word egter deur die Mangaung-metro geïgnoreer en dit laat inwoners, en veral sakelui, vuurwarm onder die kraag.

Hennie Marnitz van die ondernemings SA Air Brake and Truck en SAW Bloemfontein, sê die groot dam rioolvuil lê reg voor sy sakepersele en vrot.

John de Bruin, DA-raadslid van Heidedal van die Mangaung-metro, wys hoe die rioolvuil nou al drie weke lank in Oos-Einde in Bloemfontein lê. Foto: Marietjie Gericke

“Dit lê al vir drie weke so. Sakelui is geweldig gefrustreerd. Ons is skaam om kliënte op ons sakepersele te ontvang. Mense ry ook deur die riooldam en kom hou met hul voertuie op ons persele stil. Die gevolg is dat ons sakepersele besmet word. Spoel ons die toilette, stoot die riool in die toiletbakke op.”

Hy sê motoriste gaan nog ongelukke maak. Hulle probeer om die riooldam mis te ry en dan ry hulle oor sakepersele se erwe.

“Dit lyk al soos ’n hoofweg soos wat hulle oor sakepersele se erwe kortpad vat.”

John de Bruin, DA-raadslid van die metro, het gaan wys hoe dit lyk. Hy sê dit is die gevolg van ’n rioolsubstasie se pomp wat buite werking geraak het.

“Ek word bedags oorval met telefoonoproepe soos wat veral die sakelui en nyweraars in die gebied kla wat daagliks hierdeur moet ry. Die vrot riool spat op verbygangers wanneer die motors daardeur ry. Skoolkinders en mense wat by die sakelui wil koop, kla ook steen en been.”

Die munisipaliteit se personeel beweer daar is nie geld nie, maar daar is geld vir spyseniering vir al die gesellighede en vergaderings van die raad wat gehou word.

De Bruin sê hy was by die metro by verskeie bestuurders om vir hulp aan te klop, maar die afdelingsbestuurders sê die metro het nie die geld om die probleem op te los nie omdat ’n nuwe pomp vir die substasie gekoop moet word.

“Dit is ’n nagmerrie. Intussen kla die publiek dag en nag by my.”

De Bruin sê hy wil graag by die metro se bestuur weet wat van die inwoners se geld word wat hulle vir munisipale dienslewering betaal?

“Die gemeenskap, wat getroue belastingbetalers is, ry elke dag hier verby. Die rioolgemors raak ’n gesondheidsrisiko.

“Die munisipaliteit se personeel beweer daar is nie geld nie, maar daar is geld vir spyseniering vir al die gesellighede en vergaderings van die raad wat gehou word.”

Qondile Khedama, hoofbestuurder van kommunikasie vir die metro, sê hy sal die navraag stuur na die stadsbestuurder, adv. Qondile Khedama, asook aan die hoof van die afdeling vir water en sanitasie, om ’n oplossing vir die probleem te probeer vind.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemfontein  |  Rioolvuil  |  Sakelui
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.