Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Sambokke klap, klippe vlieg en motors brand in Vryburg
Die binnekant van een van die voertuie wat Maandag aan die brand gesteek is.

Die Naledi-munisipaliteit se kantoor in Vryburg, Noordwes, is gesluit nadat verskeie voertuie Maandag aan die brand gesteek is en mense mekaar glo met sambokke geslaan en klippe gegooi het.

Volgens Hendriette van Huyssteen, DA-raadslid by dié munisipaliteit wat die Vryburg-omgewing bedien, is die onrus weens onenigheid in ANC-geledere oor wie as die nuwe munisipale bestuurder aangestel moet word. “Die verskillende ANC-faksies se strydlustigheid oor dié aanstelling vertraag nou die aanstel van ’n nuwe munisipale bestuurder.”

Een van die voertuie wat Maandag deurgeloop het, in ligte laaie.

Die vorige munisipale bestuurder is reeds in Junie verlede jaar weg by die munisipaliteit nadat hy eers op spesiale verlof geplaas is en eindelik ’n skikking met die munisipaliteit bereik het. Tshepo Bloom is beskuldig van ongerymdhede, maar hy het dit ontken. Dit was vermoedelik ook faksiegevegte oor onder meer die ondersoek na Bloom wat in Junie verlede jaar tot erge geweld tydens ’n raadsvergadering in Vryburg gelei het. Destyds het die bloed letterlik gevloei toe Cliffton Groep, die speaker, met ’n mes in die kop gesteek is. Neo Schalk, die burgemeester, het net-net ’n diep meswond vrygespring toe sy aanvaller hom in die rug gesteek, maar die mes gegly het. Minstens twee ander raadslede is ook tydens die geweld beseer.

Van Huyssteen sê een van die ANC-faksies word daarvan beskuldig dat hulle die motor van een van die kandidate op die kortlys vir die aanstelling as munisipale bestuurder Maandag aan die brand gesteek het.

“Mense het mekaar ook buite die munisipale gebou met klippe bestook en met sambokke geslaan. Twee voertuie is buite die gebou aan die brand gesteek, waarvan een aan ’n raadslid behoort.”

Schalk het Woensdagmiddag bevestig die munisipaliteit moes toemaak. Hy erken ook daar is verskille in ANC-geledere oor die aanstelling van ’n munisipale bestuurder en dat die gemeenskap oproerig is omdat hulle eis dat ’n munisipale bestuurder gou aangestel moet word. Schalk wou hom nie uitlaat oor wie moontlik Maandag vir die geweld verantwoordelik was nie. “Ons is nog besig met vergaderings om al die kwessies te bespreek.”

Van Huyssteen waarsku dat die ANC-binnegevegte buite beheer is en die lewe van munisipale werkers en inwoners in die gebied in gevaar stel. “Ons veroordeel die ANC se gebruik van geweld en vernietiging van eiendom om politieke geskille op te los.”

’n Luukse voertuig wat ook Maandag onder die geweld deurgeloop het.

Van Huyssteen beskuldig die ANC ook daarvan dat die party nie die politieke wil het om die munisipaliteit se verslegtende geldsake of swak dienslewering te verbeter nie. “Mense in die Naledi-gebied kry steeds nie basiese dienste soos sanitasie, ononderbroke elektrisiteitsvoorsiening en behoorlike paaie of infrastruktuur nie. Pleks van aandag aan hierdie sake te gee, baklei die ANC slegs in eiebelang vir poste.”

Die ANC se provinsiale leierskap kon nie Woensdag vir kommentaar bereik word nie.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig verskeie voertuie is Maandag aan die brand gesteek en dat klippe na voertuie gegooi is.

“Die geweld het by die munisipale kantoor begin en van daar na woonbuurte versprei. Vier sake van aanranding en drie van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek. Inhegtenisnemings word binnekort verwag.”

Meer oor:  Vryburg  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.