Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Sapoa waarsku ontwikkelaars

Die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Sapoa) sê hy was “omgekrap” toe hy in die media lees die Johannesburg-metroraad het die beleid vir inklusiewe behuising goedgekeur.

Die metro het dié besluit geneem kort nadat die belangegroepe ’n tweede keer kommentaar oor die voorgestelde beleid kon lewer.

“Ons het slegs twee dae voordat die beleid goedgekeur is, omvattende kommentaar oor die konsepbeleid by die speaker se kantoor ingedien,” lui ’n mediaverklaring op Sapoa se webtuiste.

Herman Mashaba, burgemeester, het gesê daar was ’n omvattende openbare konsultasieproses. Sapoa hou egter vol die ontwikkelaars se bekommernisse is nie in ag geneem nie.

“Die potensiële maatskaplike uit­dagings word steeds nie gepak nie, soos die moontlikheid dat lae-inkomstehuishoudings geïsoleer word en die negatiewe vooroordele oor die aard van inklusiewe behuising,” lui die verklaring.

“Die belangrike kommentaar van die private sektor oor die implementering van die beleid is ook nie oorweeg nie en daar is steeds negatiewe aspekte met betrekking tot die finansiële lewens­vatbaarheid van die ontwikkelaars.”

Verskeie belangegroepe het teen die konsepbeleid beswaar gemaak. Sapoa het voorgestel dat die beleid onderhandelbaar is. Hy het ook aangevoer die metro moet die inklusiewe behuising vir die ontwikkelaars aantreklik maak.

Behuisingsopsies

1. 30% van die behuising is vir mense wat maandeliks hoogstens R2 100 huur kan betaal.

2. 10% van die vloeroppervlakte bestaan uit klein eenhede met ’n vloer­oppervlakte van gemiddeld 24 m². Minstens 30% van al die eenhede moet steeds inklusiewe behuisingseenhede wees.

3. 20% van die vloeroppervlakte bestaan uit eenhede wat die helfte so groot is soos die gemiddelde eenheid (tussen 18 m² en 150 m²). Minstens 30% van al die eenhede moet steeds inklusiewe behuisingseenhede wees.

4. Inklusiewe behuisingseenhede wat ná onderhandeling skriftelik deur die metro se departement vir transfor­masie en ruimtelike beplanning goedgekeur is.

Die metro het die vereistes daarna gewysig en daar is nou vier opsies vir dié ontwikkelings.

Neil Gopal, uitvoerende hoof van Sapoa, sê die goedgekeurde beleid is steeds nie goed deurdink nie.

“Ons sal ons lede en ontwikkelaars in die algemeen aanmoedig om hul strategieë in die mark met omsigtigheid te oorweeg,” sê Gopal.

“Ons is nie teen hoëdigtheidsbehuising of inklusiewe behuising nie, maar ons bevraagteken die metro se prosesse van ‘konsultasie’.

“Ons voel dit was net ’n oefening waar hulle die boksies afgemerk het.”

Volgens hom voel sommige ontwikkelaars die aansporing sal werk en voel ander weer dit sal nie werk nie.

“Dit is hoekom ons die belangrikheid van ’n onderhandelingsproses beklemtoon het, waar ’n vlak van buigsaamheid in die beleid is.

“Uiteindelik moet ons kyk wat die mark doen. Ons moet wag en kyk of die ontwikkelings weens die beleid afneem.”

Meer oor:  Sapoa  |  Gauteng  |  Ontwikkelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.