Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Sies! Dié dorp gaan gebuk onder rioolvuil-probleme
Daisy Hendricks, DA-raadslid, sê die “rivier van rioolvuil” by De Beershoogte en Mataleng in Barkly-Wes is “walglik.” Foto: Charné Kemp

Barkly-Wes se “rioolrivier” bedreig nie net die inwoners nie, maar ook mense laer af van die Vaalrivier omdat rioolvuil die rivier in vloei, sê die plaaslike DA.

Dit volg op die departement van arbeid se besluit van verlede Vrydag om die Barkly-Wes Primêre Skool te sluit weens die damme rioolvuil op die skoolterrein.

Die skool was die afgelope week toe terwyl die Dikgatlong-munisipaliteit herstelwerk aan die pomp buite die skool gedoen het.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, sê die skool sal Maandag weer oop wees nadat gesondheidsinspekteurs die skool besoek en die groen lig gegee het.

Die rioolvuil besoedel die veld tussen die Z.K. Matthews-hospitaal in Barkly-Wes en die informele nedersetting aan die oorkant. Foto: Charné Kemp

Lesego Pule, woordvoerder van die departement van omgewingsake en natuurbewaring, sê hul inspekteurs was Vrydag in die dorp. “Ons sal Maandag die verslag oor die probleme ontvang, en dan kommentaar lewer.”

Safiyia Stanfley, DA-woordvoerder oor onderwys, sê die departement van onderwys moes vroeër opgetree het toe die probleem kop uitgesteek het. “Hulle kan nie reaktief optree wanneer die skool eers toegemaak is nie.”

Stanfley en Daisy Hendricks, DA-raadslid, het Vrydag besoedelde plekke in die dorp besoek.

“Die pomp by die skool was verstop en die rioolvuil het na die skool teruggestoot. Slote is gegrawe om die water te laat wegvloei en die besoedelde grond is met chloor behandel.

Inwoners beweer die water wat in die Vaalrivier by Barkly-Wes vloei is met rioolvuil besoedel. Foto: Charné Kemp

“Dit is net ’n tydelike oplossing. Die pompe sal weer breek omdat die munisipale infrastruktuur in ’n haglike toestand is.

“Dit is onduidelik hoe die leerlinge die verlore werk sal inhaal. Ons kan nie bekostig dat onderwys weens rioolprobleme in die wiele gery word nie.”

Hendricks sê die rioolpompe by die Mataleng-kruising langs die provinsiale R31-roete is ook buite werking.

“Die rioolvuil vloei soos ’n rivier uit die pompstasie, onderdeur die vloedwaterbrug en af na die Z.K. Matthews-hospitaal. Die hospitaal se rioolpomp lek ook. Dié water vloei vermoedelik in die stroom na die Vaalrivier toe.”

Die DA sal die water in die stroom laat toets.

Kagiso Modise, munisipale bestuurder, sê hulle is hard aan die werk om die probleme te takel. “Kontrakteurs is reeds aangestel om die verstopte pype by Mataleng en Longlands skoon te maak en die pompe te herstel.

“Ons verneem daar is ook lekkasies by die hospitaal.

“Ek erken die rioolvuil kan ook die grondwater besoedel en daar sal ondersoek ingestel word.

“Ek is egter seker daarvan dat die water wat van ’n stroom in die Vaalrivier vloei, nie besoedel of rioolvuil is nie. Ek het vandeesweek gaan kyk en my hand in die stroom gesteek.”

Meer oor:  Barkly-Wes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.