Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Sisulu op pad na Bloemfontein oor waterkrisis

Olly Mlamleli, burgemeester van die Mangaung-metro, het Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, na Bloemfontein genooi om die dispuut oor die sogenaamde waterskuld van die metro aan Bloemwater te kom besleg, omdat Mangaung te veel vir water moet opdok.

Mlamleli sê sy kan nie toelaat dat die metro “gemelk” word om te betaal vir droogtetariewe wat volgens haar kunsmatig geskep is nie. Sy is ook kwaad oor die verhoogde rouwatertariewe wat volgens haar net moet geld as die metro bo 95% van sy normale waterlewering waaroor ooreengekom is, gebruik.

Volgens Mlamleli skuld die metro Bloemwater niks nie, maar volgens Bloemwater is die bedrag meer as R400 miljoen.

Lindiwe Sisulu. Foto: Edrea du Toit

Rossouw Botes, DA-raadslid belas met watersake, sê Bloemwater sou komende Saterdag sy waterlewering aan Mangaungweer tot 30% verminder het, maar ná gesprekke op hoë vlak is die sperdatum na 8 September verskuif, nadat Bloemwater ’n tweede keer aan die metro 30 dae kennis gegee het hieroor.

Netwerk24 verneem van ’n betroubare bron dat Bloemwater oorgehaal is om hof toe te gaan oor die uitspraak van die hooggeregshof Bloemfontein op 16 Julie om dit te gaan betwis.

Dié hof het op 16 Julie beslis dat Bloemwater onvoldoende kennis aan die metro gegee het om sy waterlewering tot 30% te verminder en dat die krane toe onmiddellik ten volle oopgedraai moes word, waarop Bloemwater 30 dae kennis aan die metro gegee het.

Mlamleli sê sy en haar span het op 17 Julie saam met Bernard Pitsane, die voorsitter van die Bloemwaterraad, in ’n restaurant op Naval Hill gaan sit om oor die waterdispuut te praat.

“Ons damvlakke is uitstekend. Daar is géén droogte nie, waarom moet die metro vir Bloemwater se droogtetariewe betaal wat kunsmatig geskep word? Bloemwater moet ook ’n 15%-verlaging op sy tariewe inbou oor verdamping en waterlekke.”

Olly MlamleliFoto: Mangaung-metro

Mlamleli het gesê hulle het oor rente gepraat en daar is met Bloemwater ooreengekom dat dit nie nodig is om die rente op skuld te betaal nie, omdat dit min is.

“Mangaung se wateringenieurs was by gedurende die gesprek en het verslae byderhand gehad van wat betaal is en nie. Ons het die R106 miljoen agterstallige skuld betaal soos met die nasionale tesourie ooreengekom.”

Mlamleli sê Sisulu sou Donderdag Bloemfontein besoek het oor die waterkrisis, maar kon vanweë ander verpligtinge nie kom nie. Maar sy is op pad.

Mlamleli sê haar probleem is ook die verouderde kontrak tussen die metro en Bloemwater wat al in 2003 opgestel is.

“Dit kan nie meer van toepassing wees nie, want Bloemfontein het sedertdien geweldig uitgebrei.”

Sy sê die metro lewer tans 30% van sy eie water deur die Maselspoort-watersuiweringsaanleg, terwyl 70% van die stad se water deur Bloemwater van die Welbedacht-aanleg af kom.

Rossouw BotesFoto: Marietjie Gericke

“Ek dink dit moet andersom wees. Die metro moet toegelaat word om 70% van sy eie water te lewer en Bloemwater net 30%.”

Botes sê hy was in gesprek met Bloemwater.

Volgens die waterverskaffer skuld die metro vir die Februarie-rekening nog R6,375 miljoen nadat die res betaal is, vir Maart nog R7,035 miljoen, vir April R36,795 miljoen, vir Mei R78,378 miljoen, vir Junie R102,259 miljoen en vir die huidige Julie-rekening R54,926 miljoen. In totaal is dit R285,770 miljoen.

Hierby moet nog R132 miljoen bygereken word wat op die afbetalingsplan agterstallig is en die totale bedrag wat Mangaung vir Bloemwater skuld, is R417,772 miljoen.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement waterwese en sanitasie, sê hy sal vandeesweek nog uitvind hoeveel van die geld die metro kan betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.