Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Skandalige Tokologo-munisipaliteit ‘totaal in duie’

Van die vrotste vertonings van die 15 Vrystaatse munisipaliteite wat die afgelope week voor die openbare- rekeninge-en-finansieskomitee van die wetgewer verskyn het, was dié van die Tokologo-munisipaliteit (Boshof, Dealesville en Hertzogville), sê wetgewerlede.

“Die munisipaliteit het totaal in duie gestort en boonop sal ’n forensiese ondersoek gedoen moet word oor bewerings van die topbestuur dat hul tender- en ander dokumente ná ’n inbraak gesteel is,” het David van Vuuren, DA-LPW in die komitee, gesê.

Die bestuurslede van die Tokologo-munisipaliteit. Van links is; Vido Vapi, voorsitter van die ouditkomitee, Koba Magomo-ANC-raadslid, Conny Groep, waarnemende burgemeester, Joseph Motlhale, munisipale bestuurder, en Thabo Matile, waarnemende uitvoerende hoof.Foto: Marietjie Gericke

Joseph Motlhale, waarnemende munisipale bestuurder, (ANC), het gesê hulle kon nie ’n sekuriteitsbeampte of ’n kamerastelsel bekostig nie. Toe was daar ’n inbraak.

“Dit maak dit baie moeilik om verslag te doen as ons dokumentasie gesteel is,” het hy gesê.

Hy het ook gesê die verslae is nie op rekenaar gestoor nie.

“Maar ons het wel ’n diefstalklag by die polisie ingedien.”

Motlhale het ook gesê inwoners wil nie vir munisipale dienste betaal nie. Hulle kry nie meer as R600 000 per maand uit rekenings ingevorder nie.

“Gevolglik is die lewering van goeie munisipale dienste onmoontlik.”

Verteenwoordigers van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake het gesê die inligting in dokumentasie en verslae wat na bewering gesteel is, kon verkry word uit bankstate, duplikaatfakture en kontrakte van kontrakteurs en diensverskaffers.

“Daar is niks moeiliks hieraan nie en ’n gr. 10-leerling sou dit kon doen.”

Komiteelede wil nou vir ’n forensiese oudit vra “omdat dit moontlik is dat die dokumente opsetlik laat wegraak is”.

Van Vuuren het ook gesê daar is geen konstitusionele verantwoordelikheid by die politieke ampsdraers en bestuurders van die munisipaliteit nie. Al die verantwoordelikheid word op konsultante geplaas. Boonop kry die konsultante wat die BTW en skuldinvordering doen, 25% van die geld wat ingevorder word.

“Dit is ’n skande wat hier aan die gang is.”

Jabulane Radebe, ANC-wetgewerlid, wat die waarnemende voorsitter van die vergadering met afvaardigings van munisipaliteite was, het die Tokologo-afgevaardigdes vasgevat omdat die speaker nie teenwoordig was nie.

Hy het ook gesê: “Ons is baie ontevrede met julle. Julle sal moet verbeter. Dit is nie goed as julle 95% van jul gelyke-beregtigingstoelaag vir salarisse gebruik nie, terwyl dit vir infrastruktuur-ontwikkeling bedoel is. Dit is teleurstellend. Dit is ook pynlik vir inwoners as hulle geen dienste kry nie.”

Hy het gesê die ouditeur-generaal (OG) het in sy 2017-’18-ouditverslag ’n “droewige prentjie” oor die munisipaliteit geskilder. Die munisipaliteit het ’n weerhouding van mening gekry, wat die swakste oudit-uitkomste is.

“Boonop staan die ongemagtigde uitgawes vir die boekjaar op R169 miljoen, die onreëlmatige uitgawes op R113 miljoen en die vrugtelose en vermorste uitgawes op R3,8 miljoen.”

Die OG het boonop bevind dat daar nie sleutel-beheermaatreëls deur die burgemeester, munisipale bestuurder en senior amptenare ingestel was nie, “dat wanvoorstellings in van die state wat vir ouditering voorgelê is, gemaak is en dat baie van die inligting nie bruikbaar of betroubaar was nie”.

Ismael Majaki, EFF-LPW, het gesê “ons wil weet waar die gate is, hoeveel van die bevindings van die OG opgelos is en of daar ’n oudit-aksieplan in plek hiervoor is”.

Motlhale het geantwoord dat 80% van die probleme wat die OG uitgewys het, intussen uitgeskakel is en dat aan die ander 20% gewerk word.

Hy het erken dat die munisipale raad komitees het, maar dat dit nie funksioneer nie.

Die Tokologo-afvaardiging het gesê dit is moeilik om dienste te lewer omdat die balju op hul geelvloot (meestal instandhoudingstoerusting) beslag gelê het vir die hof-eis van R5,6 miljoen wat die boere van Hertzogville teen die munisipaliteit ingestel het omdat veldbrande wat deur die munisipaliteit se toerusting veroorsaak is, weiveld vernietig het.

“Ons het al amper die skuld afbetaal gehad en nog net R2 miljoen geskuld, toe die balju ons toerusting kom vat,” het die Tokologo-afvaardiging gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.