SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Skerp styging in metro-tariewe ‘raak ook klein dorpe’

Die Mangaung-metro se skerp verhoogde munisipale tariewe wat van 1 Julie af geld, raak ook die inwoners van Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus en hulle moet nou betaal vir dienslewering wat hulle nie kry nie, terwyl hul infrastruktuur totaal verval het.

So het Maryke Davies, DA-raadslid van die metro, Vrydag op die munisipaliteit se jaarlikse begrotingsvergadering gesê.

“Mangaung toon geen belangstelling om ’n sukses van die samesmeltingsproses tussen die dorpe met Mangaung (Bloemfontein) te maak nie. Beloftes wat voor die 2016-verkiesing en weer voor die 2019-verkiesing gemaak is dat die inwoners verbeterde metro- munisipale dienste gaan kry, word nie nagekom nie,” het Davies gesê.

“Die ANC het maar net vals beloftes gemaak om stemme in die verkiesings te wen,” het sy gesê.

Die tariefverhogings gaan daartoe lei dat sakeondernemings moet sluit, wat die ekonomieë van die gebiede ernstig gaan raak en ook tot werkloosheid gaan lei omdat al drie dorpe in landelike gebiede geleë is,” het sy gesê.

Die meeste inwoners van die drie dorpe is pensioentrekkers en die ontvangers van toelaes.

“Die drie dorpe is in arm gebiede geleë en sakeondernemings sal nie hul pryse van goedere kan aanpas om die verhoogde erfbelasting te kan betaal nie, omdat die inwoners nie hul goedere sal kan bekostig nie.”

Davies het gesê volgens Statistieke Suid-Afrika is die gemiddelde jaarlikse huishoudelike inkomste van die dorpe R14 600. Dit is die helfte van die gemiddeld vir Mangaung en die Vrystaat wat albei R29 400 is.

Diegene wat hier werk het, is 29,3%, teenoor die syfer van 41,5% in Bloemfontein.

Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester van die metro, het Vrydag in haar begrotingsrede aangekondig dat erfbelasting met 7,3%, sanitasie met 8,3%, water met tussen 10% en 12%, vullisverwydering met tussen 9% en 11% en elektrisiteit met 13% van 1 Julie af verhoog word.

Davies het gesê die pleidooi van die inwoners die afgelope drie jaar is dat hul maatskaplik-ekonomiese omstandighede en geografiese ligging in ag geneem moet word en dat hul rekeningdispute opgelos sal word. Genoegsame water moet aan die dorpe gelewer word en vervalle paaie en stormwater-infrastruktuur moet aandag kry. Hul kinders moet beskerm word sodat hulle nie in onomheinde swembaddens in die dorpe verdrink soos al gebeur het nie. Vullis-stortingsterreine moet met die regte toerusting toegerus wees en vir die publiek oopgestel wees. Stadsale moet ook herstel word.

Verder verwag hulle dat die armste van die armes in hul armlastige begrotings ingesluit moet word en dat die elektrisiteitsinfrastruktuur opgeknap sal word.

“Maar hulle is weer geïgnoreer toe die begroting en die geïntegreerde ontwikkelingsplanne opgestel is.”

Davies het gesê sy moet as hul raadslid nou vir die gemeenskappe gaan sê dat hulle nog meer vir water, elektrisiteit, vullisverwydering, sanitasie en erfbelasting gaan betaal, hoewel hulle dalk nie eens die dienste kry nie. “As daar ’n dispuut op jul rekening is en julle kla daaroor, sal dit moontlik van amptenaar tot amptenaar aangestuur word sonder dat die probleem opgelos word.”

Sy het gesê sy sal ook vir die inwoners moet gaan sê as hulle hoop om ’n titelakte te kry vir ’n HOP-huis, hulle vir ’n tussenverkiesing of die 2021- munisipale verkiesing sal moet wag. Dit sal boonop nog geen versekering gee dat hulle van die weinige uitverkorenes gaan wees wat ’n titelakte sal kry nie.

Meer oor:  Mangaung-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.