Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kapenaars sukkel om hul water-rekeninge te betaal

Die verhoogde munisipale tariewe in Kaapstad het so ’n invloed op platsak inwoners dat munisipale rekeninge van honderde miljoene rande nie in Julie betaal is nie.

Voorafbetaalde kragbokse word geïnstalleer as deel van die ooreenkoms dat agterstallige skuld afgeskryf sal word. Foto: Jonathan Lestrade/Die Son

Hoewel daar ’n grootskaalse projek is om hulpbehoewende huishoudings se slegte skuld af te skryf, het die bedrag uitstaande betalings aan die metroraad in dié enkele maand met R485 miljoen (6%) gegroei.

In Julie het slegs 83,67% van verbruikers hul rekeninge betaal luidens ’n munisipale verslag oor betalingsverhoudings en skuldinvorderingstappe wat Maandag by die Kaapse metroraad se komitee oor finansies ingedien is.

Die gemiddelde betalingskoers vir die eerste ses maande van vanjaar was 89,93% en die 12-maande-betalingskoers is 92,86% van die rekeninge wat deur die metroraad uitgestuur is.

Luidens die verslag het die waterkrisis ’n groot invloed op invorderings en skuld. Skuld aan die metroraad het beduidend gegroei sedert straftariewe ingestel is om water te bespaar.

Die metroraad is in Mei R9,173 miljard geskuld wat teen Junie verminder is tot R8,348 miljard.

“Die skuld aan die metroraad het egter in Julie tot R8,833 miljard gegroei nadat tariewe verhoog is, sowel as die instelling van basiese water- en elektrisiteitstariewe,” lui die verslag.

Die bedrag van R8,833 miljard is die totale bedrag wat uitstaande was op 31 Julie en sluit ook die huidige betaalbare rekeninge in.

Dit sluit ook die meer as R1 miljard skuld van hulpbehoewende mense se eiendom in waar:

  • Die afdeling vir water en sanitasie waterlekke moet regmaak wat reeds geïdentifiseer is;
  • Waar waterbeperkingstoerusting nog aangebring moet word; en
  • Waar voorafbetaalde kragbokse geïnstalleer moet word as deel van die ooreenkoms dat agterstallige skuld afgeskryf sal word.
Die skuld aan die metroraad het egter in Julie tot R8,833 miljard gegroei nadat tariewe verhoog is, sowel as die instelling van basiese water- en elektrisiteitstariewe.

Daar is in Julie 1 906 toestelle geïnstalleer wat waterverbruik op eiendomme beperk. In die boekjaar wat einde Junie geëindig het, is 26 683 van dié toestelle geïnstalleer.

’n Totaal van 11 339 eiendomme is gelys waar die eienaars geweier het dat die toestelle geïnstalleer word of die eienaars of bewoners van die eiendom nie tuis was nie. Aan dié eiendomme is daar onder meer 1 812 waarskuwingsbriewe uitgestuur; 1 465 se water is beperk of afgesny; aanmaningsbriewe is aan 1 569 gestuur; 2 017 gevalle is aangemeld weens swak skuld en 1 794 is oorhandig vir regsoptrede om die skuld in te vorder.

Selfs enkele raadslede het agterstallige munisipale rekeninge en twee raadslede skuld al vir langer as 90 dae altesame R80 433.

Meer oor:  Kaapstad  |  Munisipale Rekeninge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.