Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
SOE slaan op Cederberg toe

Lede van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het Maandag gewapen met ’n lasbrief vir beslaglegging op enige bewyse van korrupsie op die Cederberg-munisipaliteit in Clanwilliam toegeslaan.

Die ANC-beheerde munisipaliteit is een van twee plaaslike regerings in die Wes-Kaap wat betrek word by ’n landwye bedrogspul met die verkryging van persoonlike beskermende toerusting vir die stryd teen die Covid-19-pandemie.

Dit is die tweede Weskus-munisipaliteit waarby die eenheid tot dusver besoek afgelê het nadat hy eers op die ANC-beheerde Matzikama-munisipaliteit toegeslaan het.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Julie reeds aangekondig dat die SOE die verkryging van PPE’s deur alle staatsinstellings gaan ondersoek.

Die spesiale ondersoekeenheid slaan toe op die Cederberg-munisipaliteit. Foto: Verskaf

Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, sê hul lede het by drie munisipale kantore wat met hul ondersoek verband hou, op dokumente en rekenaars beslag gelê.

“Ons ondersoek in Matzikama het ons tot by die Cederberg-munisipaliteit gelei nadat ons uitgevind het die drie maatskappye wat by Matzikama se PPE-tenders betrokke was, ook die tender in Cederberg gekry het. Daarom het ons die ondersoek hier begin – ons het die mense gevolg.”

Volgens Kganyago het hulle in Matzikama én Cederberg streng teenkanting van munisipale owerhede ondervind.

“Die munisipaliteit het glo gekla dat ons sonder ’n lasbrief of proklamasie toegang probeer kry het om beslag te lê op moontlike bewyse. My vraag aan hulle is ‘waar bly hulle’. Hoekom is hulle die enigste munisipaliteit in die land wat nie die president se aankondiging en proklamasie sowat sewe weke gelede gesien het nie?” het Kganyago gevra.

Volgens hom het die Cederberg-munisipaliteit sy wetstoepassers gekry om hulle verlede week te verhoed om toegang tot geboue te verkry. Hulle het ’n brief aan alle personeel gerig om nie die eenheid in sy ondersoek te help nie.

“Die munisipale bestuurder was glad nie behulpsaam nie, hy wou uit die staanspoor nie met ons praat nie en het ons om elke hoek en draai probeer stop.”

Die SOE slaan toe op die Cederberg-munisipaliteit. Foto: Verskaf

Kganyago sê dis nie die eerste keer dat munisipaliteite onbehulpsaam is nie – hulle het ook in Limpopo soortgelyke teenkanting ondervind.

“Ons het ’n ondersoek om af te handel en dis wat ons sal doen.”

Sylvia Qunta, uitvoerende burgemeester, het gesê die munisipaliteit het niks om weg te steek nie en sal voortgaan om die SOE in sy ondersoek by te staan ??solank hierdie ondersoeke wettiglik met die inagneming van grondwetlike regte gedoen word.

Qunta het bevestig dat die SOE Maandag omstreeks 10:00 by die Cederberg-munisipaliteit opgedaag het.

“Die burgemeester, raadslede en administratiewe leierskap van die munisipaliteit het geen beswaar dat die SOE die munisipaliteit se perseel betree om artikels te deursoek wat in ’n lasbrief vir deursoeking en beslaglegging beskryf word nie.”

Sy sê die munisipale bestuurder het personeel opdrag gegee om hul volle samewerking te gee.

Volgens Qunta het die eenheid verlede Donderdag ook die munisipaliteit betree en sonder ’n proklamasie of lasbrief skootrekenaars en privaat selfone van personeellede probeer vat.

“Hierdie soort gedrag is onaanvaarbaar en die howe sal genader word om dit te hersien.”

Sylvia Qunta, burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, en Francois Kamfers, hoofsweep van die raad. Foto: Skermgreep

Sy sê die Cederberg-munisipaliteit het aankope van PPE’s en kospakkies in ooreenstemming met die erkende voorskrifte en riglyne gedoen en sal die eenheid in sy ondersoek help.

Die burgemeester het die president se magte erken om die ondersoek goed te keur en het die president se inisiatiewe om te verseker dat openbare geld deursigtig en wettig bestee word, verwelkom.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, het die SOE se optrede in Cederberg verwelkom en sy ontsteltenis uitgespreek oor die bewerings wat die SOE maak dat die raad glo gepoog het om die eenheid te verhoed om sy werk te verrig.

“Dit is die tweede raad in die provinsie waarop die SOE nou toegeslaan het. Weer hou die aantygings wat ondersoek word verband met die bedrieglike verkryging van persoonlike beskermende toerusting, en weer word die SOE in sy werk belemmer.”

Bredell sê die SOE is ’n nasionale liggaam wat slegs in opdrag van die president funksioneer.

Hy sê hy het voorheen al die Valke by dié munisipaliteite ingeroep om bewerings van korrupsie te ondersoek en dat hy die SOE-ondersoek fyn dophou.

“Ek wil alle rade in die provinsie herinner aan hul plig om die publiek eerste te stel en saam te werk met wetstoepassingsowerhede wanneer hulle daartoe versoek word.”

Die e-pos-instruksie wat aan personeel gestuur is. Foto: Verskaf

William Farmer, DA-raadslid in die Cederberg-munisipaliteit, sê sy party meen die munisipaliteit probeer die ondersoek doelbewus belemmer.

“Dis geen geheim nie dat hulle in ’n e-pos instruksies aan personeel gegee het om nie met die eenheid saam te werk nie. Hulle probeer die ondersoek om elke hoek en draai teenstaan.”

Farmer wou weet hoekom die plaaslike owerheid Maandag op ’n spesiale aanlyn raadsvergadering ooreengekom het om die howe te nader as hy regtig niks het om weg te steek nie.

“Wat steek hulle weg dat hulle onnodig geld aan hofaansoeke wil bestee?”

Hy sê die DA het die besluit om die howe te nader teengestaan.

Meer oor:  Soe  |  Clanwilliam  |  Cederberg  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.