Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Sol Plaatje se woordvoerder se mond gesnoer

Gegriefde Kimberliete se humeur het Maandag verder opgevlam toe die waarnemende munisipale bestuurder die munisipale woordvoerder stilgemaak het toe dié op ’n openbare vergadering die sluier oor die oorsaak van die stad se waterprobleme wou lig.

Dié vergadering met Sol Plaatje-amptenare en die uitvoerende burgemeester is deur die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci) belê oor die wateronderbrekings waaronder die stad gebuk gaan en gebrekkige kommunikasie.

Motale Selesho, ingenieur van die Sol Plaatje-munisipaliteit, en Thami Mabija, waarnemende munisipale bestuurder, by ’n bottel vuil kraanwater wat ’n gegriefde Kimberliet vir hulle gegee het. Foto: Charné Kemp

Kimberley was sedert September verskeie dae sonder water weens tegniese probleme met onder meer die indiensstelling van ’n nuwe pompstasie. Die munisipaliteit sluit daagliks die stad se watertoevoer van 14:00 tot 04:00 af.

Marie Parsons, president van Nocci, sê sakelui en inwoners vergader reeds om hul belasting en heffings te weerhou indien dienslewering nie verbeter nie. Dit kan verlammende finansiële gevolge vir die reeds sukkelende munisipaliteit inhou.

“Die munisipaliteit en sakesektor steun op mekaar en ons wil saamwerk. Almal wat teenwoordig is, het ’n belang in die stad. Hulle verlang eerlike antwoorde en gereelde kommunikasie oor die toestand van waterverskaffing en sanitasie.

“Dit is hoog tyd dat die munisipaliteit die sakesektor ernstig opneem. Ons bydrae tot die plaaslike ekonomie beloop 95%.

“Sakelui wil egter nie belê of uitbrei nie, want die stad se swak infrastruktuur en onderhoud laat dit nie toe nie. Met ekonomiese groeivooruitsigte van net 0,6% lyk sake nie goed nie en nou moet sakelui boonop met munisipale probleme worstel.”

Die aanwesiges het die amptenare gevra oor die ware redes vir die wateronderbrekings. Vrae is ook gestel oor waarom die opgeknapte Homevale-rioolaanleg buite werking is. Verder wou ’n vraesteller weet hoekom ’n nuwe pompstasie eers in werking gestel word en daar dan gewag word vir transformators wat steeds in Johannesburg is.

Nog vrae was oor of vooruitbeplanning hoegenaamd gedoen word, en wat die werklike waterverliese is tussen die Vaalrivier waar water onttrek en gesuiwer word en die opgaardamme.

Marie Parsons, president van Nocci, sê sakelui en inwoners vergader reeds om belasting en heffings te weerhou indien dienslewering nie verbeter nie. Foto: Charné Kemp

Thami Mabija, waarnemende munisipale bestuurder, en sy amptenare het inwoners verseker hulle beplan vooruit en beskik oor die dienste van gekwalifiseerde ingenieurs.

Hy en die ander amptenare het die probleme op die droogte, die somer, geërfde ontwerpprobleme en ou infrastruktuur, inwoners se verbruik, vandalisme en kabeldiefstal blameer.

Hulle het erken dat die waterrampplan verstryk het en op datum gebring moet word.

Boy Dlhuwayo, direkteur van infrastruktuur, en Motale Selesho, ingenieur, sê die watertoevoer word net tydelik afgesluit totdat die opgaardamme heeltemal vol is, wat nog vyf dae sal duur.

Net ’n tiende van die water wat van die Vaalrivier gepomp word, bereik die Newton-opgaardamme, omdat Galeshewe en Roodepan eerste water ontvang. Indien die Newton-opgaardamme net halfvol is, kan water nie na die stad gepomp word nie.

Marie Parsons, president van Nocci, verwelkom die burgemeester en munisipale amptenare op ’n vergadering met sakelui en inwoners oor die stad se waterprobleme. Foto: Charné Kemp

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, het gesê ’n pomp by die Newton-opgaardamme wat in werking gestel word wanneer die damme halfvol is, is nie weer in diens gestel nadat dit herstel is nie. Nadat daaglikse patrollies op die pypleidings gestaak is, het vandalisme toegeneem.

Mabija en sy amptenare het onderlangs begin mor, waarna hy Matsie die mond gesnoer het.

“Ons stem nie saam met wat gesê word nie. Ons moet eers eenstemmigheid oor die probleme kry, en sal maandeliks met sakelui en inwoners oor die probleme vergader.”

Die inwoners was steeds ontevrede. Tumelo Mosikare van Galeshewe het gesê die amptenare lieg, waarop Patrick Mabilo, burgemeester, beswaar gemaak het.

Mosikare het homself onder toejuiging gekorrigeer en gesê die munisipaliteit is nie eerlik oor die werklike oorsake van die waterprobleme nie.

Mabija het ingestem om met voormalige stadsingenieurs oor moontlike oplossings te vergader.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.