Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Stadsbestuurder, regsman ‘moet self hofkoste betaal’

Die munisipale bestuurder van Polokwane en die munisipaliteit se prokureur het nou geen ander keuse nie as om ’n persoonlike kostebevel teen hulle na te kom nadat ’n poging om die geld indirek van belastingbetalers te verhaal misluk het.

Die konstitusionele hof in Braamfontein het in ’n uitspraak op 23 Desember verlede jaar ’n persoonlike kostebevel teen Dikgape Makobe, munisipale bestuurder, en Mohale-prokureurs gemaak.

Dikgape Makobe, die Polokwane-munisipaliteit se bestuurder, het gehoop belastingbetalers sal sy persoonlike kostebevel deur die konstitusionele hof kan dra. Foto: Daily Sun

Volgens Franco Marx, direkteur van Franco Marx-prokureurs en DA-raadslid in die stadsraad, was dit Desember die sesde keer wat ’n hof teen dié munisipaliteit beslis het in ’n enkele saak wat met die aanstelling van ’n diensverskaffer Fleet Africa verband hou.

Hierdie keer was die kostebevel egter nie teen die munisipaliteit as aansoeker nie, maar teen twee individue.

Die konstitusionele hofsaak en van die ander voorafgaande onsuksesvolle aansoeke moet nog getakseer word, maar Marx beraam die uitstaande koste op ongeveer R10 miljoen.

Dit is benewens die miljoene wat die hofstryd die munisipaliteit reeds uit die sak gejaag het.

Makobe het by navraag aan Netwerk24 gesê hy en Peter Mohale, die prokureur, sal die getakseerde koste 50-50 deel.

Die laaste bevel

Die konstitusionele hof het die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys omdat dit nie in sy jurisdiksie val nie, en omdat dit volgens dié hof nie ’n redelike vooruitsig op sukses het nie.

Makobe het aan Netwerk24 bevestig dat geen verdere redes vir die persoonlike aard van die kostebevel aan hom verstrek is nie.

’n Beslissing deur die konstitusionele hof is die einde van enige regspad en kan nie verder gevoer word nie.

Voorstel aan die stadsraad

Die voorstel dat die stadsraad – eerder as die individue – vir die kostebevel moet pa staan, is in die raad se agenda en voorgestelde resolusies van 25 Januarie vanjaar aangeteken.

’n Deel van die voorstel lui: “(Die) raad neem kennis van die negatiewe uitwerking wat die konstitusionele hof se uitspraak op die magte van die munisipale bestuurder het om sy pligte uit te voer.

“(Die) raad neem kennis van en magtig (die voorstel) dat die regskoste deur die raad gedra word, aangesien die munisipale bestuurder en die munisipale regsverteenwoordiger die raad se besluit, wat deur die raad goedgekeur is, uitgevoer het.”

Luidens die agenda het die munisipaliteit sedert 2017 reeds meer as R10 miljoen se regskoste aan hul prokureurs in die saak betaal.

Dit blyk uit die agenda dat ’n arbitrasieproses ná afloop van al die onsuksesvolle hofaansoeke voortgesit kan word, maar dit sal uiteraard nóg koste beteken.

‘Ons respekteer wél die bevel’

Makobe het bevestig dat die aanbeveling ná regsadvies aan die stadsraad gemaak is, aangesien die saak ’n kontraktuele geskil tussen die Polokwane-munisipaliteit en Fleet Africa behels.

“En aangesien die munisipale bestuurder deur ’n raadsbesluit behoorlik gemagtig is om die belange van die raad te verdedig, is dit net regverdig dat die munisipaliteit die een is wat die koste dra,” het Makobe by navraag gesê.

Volgens Marx het die DA beswaar teen hierdie voorgestelde resolusie gemaak en aangevoer dat dit op minagting van ’n hofbevel sal neerkom.

Makobe het op sy beurt gesê dat die voorstel nie goedgekeur is nie “omdat die raad gemeen het dat, in die afwesigheid van redes vir die toekenning van ’n persoonlike kostebevel, die raad verplig is om die gees van die hofbevel te respekteer soos dit is”.

“Dit is die standpunt wat die munisipale bestuurder en die prokureur soos aangeteken van die begin af ingeneem het – dat die bevel gerespekteer moet word.”

‘Uitspraak wél onregverdig’

Volgens Makobe sê hulle nie die kwessie rakende die hofbevel is “onregverdigbaar” nie, maar hy meen die uitspraak is “onregverdig”, omdat dit nie ’n presedent nagevolg het nie.

Hy verwys na regspraak in die saak Brummer vs. Gorfil Brothers Investments van 2000.

Die konstitusionele hof het toe gelas dat persoonlike kostebevele nie opgelê sal word sonder geskrewe of mondelinge betoë nie.

“Die munisipale bestuurder en die regsverteenwoordiger is nie aangehoor nie,” het Makobe gesê.

Mohale druk foon dood

Mohale het met Netwerk24 se oproep herhaaldelik gesê hy het nie opdrag van sy kliënt om met die joernalis te praat nie.

Toe Netwerk24 hom daarop wys dat die navraag persoonlik aan hom as prokureur gerig word omdat die hofbevel ’n persoonlike kostebevel teen hom behels, het hy die selfoon doodgedruk.

Meer oor:  Kostebevel  |  Munisipale Bestuurder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.