Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Staking in Xhariep-distrik nog lank nie verby

Daar is nog geen einde aan die staking van munisipale werkers van die Kopanong-munisipaliteit in die Vrystaatse Xhariep-distrik nie.

Die staking het in Februarie begin nadat die munisipaliteit sedert 2001 nie werkers se bydraes tot hul siekefonds en pensioenfonds oorbetaal het nie.

Rioolwater vloei vrylik in Philippolis in die Vrystaat, waar Samwu-werkers van die Kopanong-munisipaliteit al sewe weke staak. Foto: Verskaf

Die dorpe wat onder die munisipaliteit se beheer is, is Trompsburg (hoofkantoor), Fauresmith, Jagersfontein, Springfontein, Gariepdam, Bethulie, Reddersburg, Edenburg en Philippolis. Weens dié staking is daar nou groot probleme met dienslewering op dié dorpe.

Thabang Tseuoa, provinsiale sekretaris-generaal van die munisipale vakbond Samwu, sê buiten ’n klein groepie mense in Springfontein, neem al hul lede aan die staking deel.

Volgens hom het die munisipaliteit oor nege maande byna R60 miljoen van die nasionale tesourie gekry, maar het sedert Junie verlede jaar slegs R789 000 aan een van hul vier fondse betaal.

“Die munisipaliteit het R28 miljoen in Julie gekry, R16 miljoen in Desember en R15,8 miljoen in Maart vanjaar.

“Hulle skuld Samwu R12,3 miljoen, R50,40 miljoen aan die Sala-pensioenfonds en R480 000 aan die Vrystaat-voorsorgfonds. Hulle wil nie sê waar al die geld is nie,” sê Tseuoa.

Onverwerkte riool loop in die strate voor huise in Philippolis in die Vrystaat. Foto: Verskaf

Nkululeko Kelepu, waarnemende munisipale bestuurder, het die werkers verlede Maandag in ’n brief aan Samwu gedreig met die arbeidshof en gesê die werkers is met ’n onwettige staking besig.

“Jul werkers se versuim om hul pligte na te kom, veroorsaak ernstige skade aan die munisipaliteit. Die munisipaliteit eis dat al jul lede voor 14:00 op Woensdag 3 April 14:00 terugkeer werk toe,” lui die brief.

As die werkers nie gehoor gee aan die eis nie, skryf Kelepu, sal die munisipaliteit die arbeidshof nader om ’n interdik te kry om werkers te verbied om aan die staking deel te neem.

Die munisipaliteit oorweeg ook om die benadering van geen werk, geen betaling toe te pas omdat geen werkers hul dienste lewer nie.

Tseuoa sê hulle is verras om te hoor dat hul staking onwettig is, omdat hulle al die regte prosedures gevolg het om aansoek om die staking te doen.

“As die munisipaliteit sê ons staking is onwettig, moet hy hof te gaan.

“Volgens ons is die staking wettig. Ons werkers sal aanhou staak totdat die munisipaliteit aan ons eise gehoor gee,” sê Tseuoa.

Volgens hom is twee mense al dood omdat hulle nie kon dokter of hospitaal toe gaan nie omdat die munisipaliteit nie hul mediese fondse betaal het nie.

Kelepu kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie en het ook nie op boodskappe gereageer nie.

Dié verstopte drein by ’n huis in Philippolis in die Vrystaat het ’n oorstroming van onverwerkte riool veroorsaak. Foto: Verskaf
Die riool vloei in die strate in Jagersfontein. Werkers van die Kopanong-munisipaliteit in die Vrystaat staak al sewe weke. Foto: Verskaf
Meer oor:  Kopanong-Munisipaliteit  |  Samwu  |  Dienslewering  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.