Nee, Steve, jy is nié hier welkom nie.
Die George-munisipaliteit het die welkom-matjie onder die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr se voete uitgeruk nadat die ANC in die Wes-Kaap kapsie gemaak het oor sy beplande konsert in die dorp.
Dit sou volgende week in die stadsaal en ten bate van ’n plaaslike skool gehou word.
Chantel Edwards-Klose, woordvoerder vir die George-munisipaliteit, het bevestig hulle het hul ooreenkoms met die bemarkingsagentskap wat die saal namens Hofmeyr gehuur het, beëindig.
“Ons het besluit om ons huurooreenkoms vir die fasiliteit met die betrokke organisasie terug te trek en dit is heeltemal binne ons regte,” sê sy.
“Ek gaan nie verder hieroor uitwei of kommentaar lewer nie.”
Edwards-Klose sê sy het geen idee of Hofmeyr intussen ’n ander lokaal gevind het nie.
Dit volg nadat Faiez Jacobs, die ANC se sekretaris in die Wes-Kaap, Woensdag aan die burgemeester en munisipaliteit geskryf het om te eis dat hulle dadelik die “witheerssugtige” Hofmeyr se konsert kanselleer.
Jacobs sê in die brief die ANC in die Wes-Kaap verwerp en veroordeel enige besluit van die George-munisipaliteit om die “rassistiese” Hofmeyr ’n platform te bied.
“Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit om hierdie konsert onmiddellik te kanselleer en hulself van Hofmeyr te distansieer, net soos ander borge soos Pick n Pay, Land Rover en Absa in die verlede gedoen het,” lui die brief.
“Geen sfeer van die mense se regering behoort hulself ooit met hierdie rassistiese witheerssugtige en sy kras en kru oortuigings te assosieer nie.”
Jacobs sê Hofmeyr se rassisme, sy openlik rassistiese slagspreuke en sy steun vir Afrikaner-nasionalisme is walglik.
Die ANC is bekommerd dat die munisipaliteit op ’n stilswyende wyse rassediskriminasie ondersteun.
Dit is onaanvaarbaar om Hofmeyr toe te laat om op te tree in ’n ikoniese landmerk van ’n stad wat steeds besig is om van sy rassistiese verlede te herstel, sê Jacobs.
Die landdroshof in Stellenbosch het ook Maandag ’n tussentydse hofbevel toegestaan wat Hofmeyr verbied om Johan Pienaar te teister of te intimideer.
Dit volg nadat Pienaar by die Woordfees in Stellenbosch mense genooi het om letterlik oor die ou Suid-Afrikaanse landsvlag te loop.
Hofmeyr het daarna getwiet dat hy ’n beloning van R1 500 uitloof vir enigeen wat die vlag van die sypaadjie in Stellenbosch verwyder.
’n Man het Pienaar kort daarna genader met ’n stukkie papier waarop daar geskryf is dat die vlag sonder vergoeding onteien word. Hy het toe met die vlag weggehardloop.