Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Stilbaai se ‘vat-en-los’-biblioteek floreer al 3 j.
Die Stilbaai-straatbiblioteek is nou al sowat drie jaar lank aan die gang. Foto: Verskaf

Drie jaar nadat Stilbaai in die Suid-Kaap sy eerste “straatbiblioteek” gekry het, floreer dié tendens so dat nog mense in die dorp hul eie “biblioteke” vir openbare gebruik geopen het.

Dit was veral gewild tydens die strenger vlakke van die staat van inperking toe die dorp se openbare biblioteek gesluit was.

Daar is nou al vyf van hierdie biblioteke in Stilbaai en selfs een in die nabygeleë Jongensfontein.

Pieter van Niekerk (68), wat vir die eerste een verantwoordelik was, sê hy het op die plan gekom in Perth in Australië toe hy sy dogter daar besoek het.

“Ek moes dit net doen toe ek weer in Suid-Afrika terugkom, want ek het gedink dit is ’n briljante plan.”

Van Niekerk is ’n voltydse skrywer wat houtwerk as ’n stokperdjie beoefen.

Hy het die eerste straatbiblioteek in Stilbaai eiehandig gebou en voor sy huis in Parkstraat staangemaak.

“Ek is ’n groot leser en het sommer van my eie boeke in die straatbiblioteek gesit met die woorde ‘neem een, plaas een’ groot daarop geskryf,” sê hy.

Van Niekerk, wat ook die voorsitter van die Stilbaai Skryfkring is, sê aan die begin het ’n paar boeke weggeraak, maar nou stroom die boeke van alle kante af in.

Verskeie mense het al biblioteke op erwe oor die dorp heen opgesit. Foto: Verskaf
Daar is boeke in verskeie genres in Stilbaai se straatbiblioteke beskikbaar. Foto: Verskaf

“Ek het daarmee begin omdat ek vertroue in die mensdom het. Ons kry nou soveel boeke in verskillende genres dat sommige straatbiblioteke te klein raak!”

Van Niekerk kry ook navrae van mense van elders wat van die konsep hou. “Mense van oorsee en van Durban het my al gekontak. In Durban het ’n paartjie ’n biblioteek vir hul oorlede seun opgerig.”

Die straatbiblioteke voldoen ook aan koronavirusregulasies en verskaf ontsmettingsmiddels aan die boekwurms.

“Sommige mense loop selfs met flitse in die aand om boeke te gaan haal,” sê Van Niekerk.

Annerise Wolmarans, toerismebeampte by Stilbaai Toerisme, sê mense op die dorp is mal daaroor.

“Stilbaai is een van die dorpies in Suid-Afrika met die laagste misdaadsyfer. Dis hoekom dit hier werk,” sê sy.

“Selfs vakansiegangers prys dit. Ons is baie gelukkig dat ons sulke planne kan laat werk en is bly dat Pieter dit begin het.”

Van Niekerk sê dit is ’n riem onder die hart dat die straatbiblioteek nog aan die gang is.

“Ek is baie bly om te sien dat daar in die hedendaagse tyd nog mense is wat lees,” sê hy.

Meer oor:  Lees  |  Biblioteek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.