Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Studie: Agterstand met padwerke kan R416 miljard beloop

Die werklike koste van Suid-Afrika se agterstand met die instandhouding van paaie kan al minstens R416,6 miljard beloop en oorskry die ramings wat die regering gebruik.

Dit is volgens ’n studie van prof. Don Ross en Matthew Townshend van die Universiteit van Kaapstad (UK) se skool van ekonomie, waar die akkuraatheid van die geskatte agterstand van R197 miljard in 2014 ondersoek is.

Die agterstand met die instandhouding van paaie in Suid-Afrika kan tot R416 miljard beloop, volgens ’n studie deur twee navorsers van die Universiteit van Kaapstad (UK). Foto: Gallo Images

Dié bedrag is deur Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se komitee van vervoeramptenare (Coto) geraam en is in die konsepbeleid oor paaie van die nasionale departement van vervoer in 2018 gebruik.

Ross en Townshend het egter bevind dat die agterstand met instandhouding van teerpaaie tot R135,4 miljard kan beloop en R281,2 miljard vir grondpaaie.

“Die geskatte agterstand met instandhouding is enorm, veral met die provinsiale en munisipale padnetwerke,” lui hul studie. “Dié owerhede het dit in die verlede onderbefonds om op ander dringende behoeftes soos onderwys te fokus. Dit het daartoe gelei dat die agterstand in provinsies en munisipaliteite op meer as ses tot agt keer hul besteding op padonderhoud in die boekjaar 2017-’18 neergekom het.”

Die navorsers se bevindings is onlangs by die Suider-Afrikaanse Vervoerberaad (SATC) in Kaapstad gedeel.

Die studie het ’n model ingespan om te kyk na die mate waartoe nasionale, provinsiale en munisipale owerhede deur die agterstand teen 2017 geraak is.

Padwerke aan die N1 in Bellville, Kaapstad. Foto ter illustrasie.Foto: Wes-Kaapse Regering

Volgens Ross en Townshend maak die grootte van die agterstand dit onwaarskynlik dat dit met oordragte en subsidies van die nasionale regering af uitgewis kan word.

Dit is veral weens die nasionale tesourie se verbintenis tot finansiële konsolidasie, wat weens ’n tekort aan noemenswaardige ekonomiese groei grootliks deur besparings en doeltreffende besteding deur departemente behaal moet word.

Hoewel die nasionale departement en Sanral na alternatiewe bronne vir befondsing kyk om die agterstand in te haal en dit kan help om die druk te verlig sal die agterstand waarskynlik nie heeltemal uitgewis word of gouer as in die medium- en langtermyn plaasvind nie, skryf Ross en Townshend.

Daarby het provinsiale owerhede in hul batebestuurplan vir paaie aangedui dat nóg hulle, nóg hul kontrakteurs en konsulterende ingenieurs in staat is om die groot kapitaalinspuiting te hanteer wat dit sal verg om die agterstand in die korttermyn uit te wis.

Die departement se beleid van 2018 dat provinsies en munisipaliteite ongeproklameerde paaie behoort te absorbeer, kan ook hul agterstande verder met R105,5 miljard tot R461,7 miljard laat styg.

Die vervanging van gruispaaie se oppervlakte word as kostedoeltreffende wyse beskou om dié paaie te herstel, maar die koste word op R115 miljard vir paaie met hoë volumes verkeer geskat en kan selfs R1,7 miljard vir alle ongeproklameerde gruispaaie beloop.

Prof. Don Ross van die Universiteit van Kaapstad se skool van ekonomie. Foto: UCT.AC.ZA
Matthew Townshend van die Universiteit van Kaapstad. Foto: Academia.edu

Nasionaal

Luidens die studie het Sanral se padnetwerk van 7 000 km in 1998 tot 22 197 in 2017 gestyg, waarvan tolpaaie 13% uitmaak.

Sowat 2 442 km van geteerde nasionale paaie was in 2017 in ’n swak of uiters swak toestand en dit het die aanvaarbare maatstaf van 10% met 222 km oorskry.

Provinsiaal

Provinsiale owerhede het 48 945 km geteerde paaie en 173 732 km gruispaaie in 2017 bestuur, wat met befondsing van die nasionale fiskus, die provinsiale inkomste en die PRMG instandgehou word.

Van dié paaie was 15 728 km in ’n swak of uiters swak toestand en is die aanvaarbare maatstaf met 10 834 km oorskry.

Provinsiale gruispaaie was in ’n swakker toestand, met 55,6% in ’n swak of baie swak toestand en is daar ’n agterstand van 96 703 km, wat die aanvaarbare perk met 79 330 km oorskry het.

Munisipaal

In 2017 was 5 117 km van paaie in metropole en 9 065 km van paaie in distriksmunisipaliteite in ’n swak of uiters swak toestand, met die metropole wat binne die maatstaf van 10% bly en distrikte wat dit met 5 000 km oorskry.

Van die gruispaaie in metropole was 1 229 km in ’n swak of uiters swak toestand en 242 439 km in distriksmunisipaliteit, met die distrikte wat die aanvaarbare perk met 215 797 km oorskry.

Dié paaie word onderhou met toelaes van die nasionale regering, munisipaliteite se eie inkomste, toelae van die uitgebreide openbare werke program (EPWP), die munisipale infrastruktuur toelaag en die openbare vervoer infrastruktuur en stelsels toelaag.

Verder is daar 131 919 km ongeproklameerde paaie wat nog nie amptelik geklassifiseer is as die verantwoordelikheid van enige regeringsvlak nie en daarop neerkom dat owerhede nie wettiglik staatsgeld op dié paaie mag bestee nie.

Dit lei daarna dat die paaie in ’n uiters swak toestand is, tensy dit privaat instandgehou word.

Die verslag kan hier gelees word.

Meer oor:  Universiteit Van Kaapstad (Uk)  |  Sanral  |  Paaie  |  Padwerke  |  Studie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.