Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Stukkend’ en bekommerd oor Koffiefontein se toekoms

Twee “stukkende” Rastafariërs wat die afgelope twee weke in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein aansterk, is bekommerd oor die toekoms in Koffiefontein.

Dit is nadat hulle deur amokmakers met kieries en ysters geskop, getrap en geslaan en vir dood agtergelaat is.

Thabo Louw (50), ’n pa van ses seuns, is in Koffiefontein so erg geslaan dat sy kakebeen op drie plekke gebreek is. Sy arm is ook gebreek. Foto: Marietjie Gericke

Thabo Louw (50) sê sy kakebeen was op drie plekke gebreek toe hy twee weke gelede per ambulans in die Pelonomi-hospitaal opgeneem is. “My arm was ook gebreek,” sê hy.

“Die kakebeen is geopereer, maar ek het steeds baie pyn as ek eet of water drink. Die arm sal Saterdag geopereer word.

“Ek kry elke dag pynstillers en weet nie wanneer ek hier gaan uitkom nie.”

Hy sê van die probleme is die hoë werkloosheid in Koffiefontein en die onverwerkte riool wat voor jou voordeur verby vloei.

“Daar is ’n klomp goed waaroor die mense baklei, onder meer die swak munisipale dienslewering, Thandi Reachable, die burgemeester, wie se kop hulle eis, en myngrond.”

Hy sê sowat 300 mense het hom toegetakel en geslaan. “Dit was omdat ek werk van Reachable gekry het. Dié wat my geslaan het, het gesê ek heul met Reachable en sy het my omgekoop om aan haar kant te wees. Die mense het my geskop, getrap en geslaan. Ek was ’n heel mens en nou is ek ’n krok.”

Hy sê die jongmense in Koffiefontein gebruik dwelms en steel omdat daar nie werk is nie.

“Ek is die pa van ses seuns en al 20 jaar werkloos.

“Ek maak klere en my vrou, Marie, bak om die gesin aan die lewe te hou. Maar Marie vrees ook nou vir haar lewe. Die wêreld is omgekeer en deurmekaar,” sê hy.

Hendrik Visser (45), ’n pa van twee kinders, se arm is in die Koffiefontein-gevegte gebreek.Foto: Marietjie Gericke

Hendrik Visser (45) sê hy is twee weke gelede met ysters en kieries in Koffiefontein bewusteloos geslaan. “Ek het per ambulans aan ’n suurstofmasjien hier by Pelonomi aangekom.”

Sy arm en hand is Donderdag geopereer.

Visser sê hy is besig om van sy vrou, Mantwa, te skei. “Ek bekommer my oor my twee kinders, Kelebogile (15) en Meisie (11), wat in Koffiefontein is. Hulle bly nou by my ouers.”

Hy sê hy is geslaan omdat hy ’n perseel op myngrond en werk by die burgemeester gekry het.

“Die mense wat ons geslaan het, het gesê ons laat ons deur die burgemeester omkoop.

“Ek het nog so op ’n muur gesit, toe haak ’n kierie my en toe haak iemand my met ’n hamer en slaat my op die bors daarmee.

“Mense het my bewusteloos in die veld anderkant die groot kanaal gekry waar ek vir dood gelos is.”

Hy en Louw is eers na die Diamant-hospitaal in Jagersfontein geneem en vandaar na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

“Ons is dankbaar om te kan lewe. Die Here is groot, wragtig die Here is groot.”

Visser sê hy wil graag teruggaan Koffiefontein toe, maar is bang, omdat hy nie weet wat op hom wag nie.

Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Thabo Louw  |  Hendrik Visser  |  Koffiefontein  |  Rastafariërs  |  Misdaad  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.