Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Sukkelende Mangaung wil 100 padvalke aanstel
Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeesterFoto: Mangaung-metro

Terwyl die sukkelende Mangaung-metro in Bloemfontein glo vroeg in Mei aan die nasionale tesourie redes moet verskaf oor waarom hy nie onder administrasie geplaas moet word nie, het die burgemeester in ’n koerant 100 poste vir verkeerskonstabels geadverteer.

Volgens die advertensie sal die verkeerslui vergoeding van R2 500 per maand ontvang. Intussen kla huidige verkeerskonstabels van die metro dat hulle drie jaar laas nuwe uniforms gekry het.

Qondile Kedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê dié leerlingverkeerskonstabels se opleiding sal deur die Plaaslike Regeringsektor se Opvoedings-en-opleidingsowerheid (LGSETA) gefinansier word.

Die LGSETA bied ’n omgewing om opleiding te fasiliteer en vaardighede aan te leer van verskeie werknemers en personeel wat betrokke is by plaaslike regering, sowel as aan werklose Suid-Afrikaners.

Boonop het Olly Mlamleli, burgemeester, reeds ’n geruimte tyd gelede sowat 800 werkers ingevolge die uitgebreide openbare-werke-program aangestel om byvoorbeeld townships skoon te maak en ander dienste vir die metro te verrig.

Sy kry geld hiervoor van die provinsiale regering, maar die geld is minder as dié wat sy uitgee, kla amptenare.

Hierby het die metro ná die munisipale verkiesing in 2016 opdrag “van bo” gekry om 180 permanente poste in die politieke kantore van die metro te vul. Dié werkers verdien elk sowat R30 000 per maand, wat ’n groot bykomende las op die metro se geldkas geplaas het.

Dit bring ’n bykomende maandelikse salarislas van R10 miljoen mee.

Bowendien is die salarisrekening van die metro nou R160 miljoen per maand.

Op ’n onlangse munisipale vergadering is gesê in dié stadium skuld inwoners die metro R4,2 miljard, waarvan R941 miljoen die geld van staatsdepartemente is wat hom nie betaal nie.

Deesdae word gesukkel om daardie geld maandeliks bymekaargeskraap te kry.

Stadige ekonomiese groei en jare van wanbestuur by sommige staatsmaatskappye en munisipaliteite het sy tol op die regering se fiskus geëis en die regering se finansies tot op die uiterste gerek.

Amptenare sê hulle vrees elke maand dat hulle nie betaal gaan word nie.

Hardie Viviers, koukusleier van die DA, het onlangs ’n brief aan Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, geskryf om haar ingryping te versoek en ook te vra dat sy ’n regterlike kommissie van ondersoek aanstel om die metro, asook die personeelkorps te ondersoek.

Volgens die DA behoort ’n nuwe organogram opgestel te word waar mense so in poste geplaas word dat die munisipaliteit behoorlik kan funksioneer.

Dit was nadat die publiek daagliks oor die vuil stad gekla het omdat vullissakke orals ophoop, terwyl daar ook onlangse wateronderbrekings was oor skuld aan Bloemwater van R680 miljoen, waarvan R297 miljoen ’n dispuutbedrag tussen die partye is.

Viviers sê hy het nog nie ’n woord van Ntombela gehoor nie.

Die minister van finansies, Nhlanhla Nene, het vandeesweek in Johannesburg op ’n seminaar vir stadsbestuurders gesê dat sommige Suid-Afrikaanse stede op die rantjie van ineenstorting is, maar daar moet wal gegooi word dat hulle nie oor die afgrond tuimel nie.

“Stadige ekonomiese groei en jare van wanbestuur by sommige staatsmaatskappye en munisipaliteite het sy tol op die regering se fiskus geëis en die regering se finansies tot op die uiterste gerek.”

Meer oor:  Olly Mlamleli  |  Mangaung  |  Finansies  |  Poste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.