Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Swartruggens, Koster al week sonder water

Inwoners van Swartruggens, Koster en Derby in Noordwes het al ’n week lank geen water nie omdat munisipale werkers staak.

Die werkers is kwaad omdat hul pensioen- en siekefondsbydraes, wat maandeliks afgetrek word, glo nie aan die tersaaklike organisasies oorbetaal word nie.

Die kragtoevoer in sekere dele van die dorpe is ook die afgelope week onderbreek omdat daar nie werkers is om dit te herstel nie. Vullis word nie verwyder nie, die munisipale kantore is gesluit en inwoners moet hul rybewyse in Rustenburg hernu.

Joseph Mogale, munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit wat die gebied bedien, het Maandag erken dat werkers se pensioenbydraes sowat vyf maande agterstallig is en die agterstallige bedrag ongeveer R3 miljoen beloop. Hy sê egter die siekefondsbydraes is betaal.

Volgens Mogale is die pensioenfondsbydraes agterstallig omdat dié aftrekkings vir ander uitgawes gebruik is pleks daarvan om dit aan die fonds oor te betaal.

“Ek het maar in Augustus verlede jaar hier begin en ’n benarde situasie met baie agterstande aangetref. Ons groot probleem is dat baie mense nie vir dienste betaal nie en ons dan sukkel om bedryfsuitgawes soos salarisse te betaal.”

Carel van Heerden, voorsitter van die Kgetlengrivier-belastingbetalersvereniging, sê die vereniging het “groot simpatie” met die stakende werkers, maar dat hy Vrydag ’n hofbevel bekom het wat stakende werkers verbied om dié wat wil werk te intimideer.

“Ons het Maandagoggend met verteenwoordigers van die werkers vergader en ooreengekom dat hulle sal toesien dat ten minste water- en kragdienste gelewer word. Ons verwag die watertoevoer sal teen Dinsdag begin verbeter. Inwoners met boorgate help intussen ander, ook mense in die townships.

“Intussen beplan ons om vandeesweek nog klagte van bedrog en korrupsie by die polisie in te dien oor die mediese en pensioenfondsbydraes wat nooit oorbetaal is nie. Die stakende werkers wil moontlik deel word van ons hofaksie, maar ons onderhandel nog daaroor. Ons glo die geld is gesteel en dat dit etlike miljoene rande beloop.”

Van Heerden sê sover hy weet, is belasting- en siekefondsbydraes ook agterstallig.

“Ons is besig om die presiese bedrae te bevestig.”

Mogale sê die bestuur onderhandel nou met die nasionale tesourie om Kgetlengrivier se proporsionele fiskale toedeling van R30 miljoen, wat in Desember verlede jaar weerhou is, te kry.

Hy erken die munisipaliteit se finansiële state vir die afgelope twee boekjare dui aan R30 miljoen van die vorige toedelings wat hulle oor dié tydperk gekry het, is nie bestee nie. Dis om dié rede dat die nasionale tesourie die nuutste toedeling weerhou het.

“Die vorige toedelings is uit nood, weens ons benaderde geldsake, nie reg aangewend nie en onder meer gebruik om salarisse te betaal. Ons het ’n ooreenkoms met die pensioenfonds dat ons die uitstaande R3 miljoen sal betaal, sodra ons ons nuutste toedeling kry.”

Mogale sê hoewel die ongebruikte bedrag as R30 miljoen aangedui word, is dit in der waarheid R16 miljoen.

“Daar is nie in die state aangedui dat ons reeds R14 miljoen aan die tesourie terugbetaal het nie en ons moet nou bewyse hiervan verskaf. Ons wil nou ’n ooreenkoms met die tesourie aangaan om die werklike agterstallige bedrag af te betaal, sodat ons ons (jongste) toedeling kan kry.”

Volgens Mogale word ’n spesiale raadsvergadering Dinsdag gehou om die ooreenkoms met die tesourie te bekragtig. Hy is vol vertroue dit sal gebeur en dat die staking dan iets van die verlede sal wees.

Hy sê die toedeling van die tesourie sal in die toekoms in ’n aparte rekening betaal word sodat dit verantwoordelik gebruik kan word.

“Ons wil ook werk aan ons invordering van dienstegeld sodat bedryfsuitgawes daaruit betaal kan word om te voorkom dat pensioenbydraes daarvoor gebruik word. Die kultuur van niebetaling moet stopgesit word.”

Meer oor:  Koster  |  Noordwes  |  Swartruggens  |  Vullisverwydering  |  Munisipaliteit  |  Watertoevoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.