Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Talle staatsgeboue in Bloemfontein gesluit weens virus

Vrystaters moet nou sover moontlik tuisbly. Die koronavirus versprei tans vinnig in dié provinsie, sê Sisi Ntombela, premier.

Die Fidel Castro-gebou in Bloemfontein is Dinsdag heropen nadat dit ontsmet is. Foto: Argiewe

Sy self werk tans uit Vrystaat-huis nadat die O.R. Tambo-gebou in Bloemfontein Maandag gesluit is nadat amptenare hier positief getoets is. Die gebou word nou ontsmet en sal na verwagting Donderdag heropen.

Duisende amptenare werk in dié gebou, onder andere die premier en haar LUR’e.

Intussen het die Fidel Castro-gebou, die ander groot staatsgebou in Bloemfontein, Dinsdag heropen. Dit is Vrydag gesluit nadat ’n amptenaar hier positief getoets is.

Centlec, die kragverskaffer van die Mangaung-metro, se gebou is ook Dinsdag gesluit en sal eers Donderdag heropen. Dit moet ontsmet word nadat ’n personeellid positief vir die koronavirus getoets is.

Hillary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse departement vir polisie, paaie en vervoer, sê die Lengau-bestuurderslisensiesentrum is ook nog gesluit nadat ’n personeellid hier positief getoets is. Die sentrum is Maandag gesluit.

“Ons volg die protokol om die sentrum vir sewe of 14 dae gesluit te hou. Ons sal laat weet wanneer dit weer oopgestel kan word.”

Talle Covid-19-pasiënte word nou in Vrystaatse hospitale behandel. In net een hospitaal in Bloemfontein is daar minstens 17 pasiënte.

Daar is oral op die Vrystaatse platteland uitbrekings, met ook ’n taamlike groot uitbreking in Noupoort in die Noord-Kaap waar meer as 400 van die 4 000 inwoners positief is, verneem Netwerk24 betroubaar.

Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal (DG) van die Vrystaatse provinsiale regering, sê minder as 6 000 amptenare in sowel die O.R. Tambo- as die Fidel Castro-gebou was al terug by die werk ná die strenger vlakke van inperking toe enkele amptenare hier positief getoets is.

Die O.R. Tambo-gebou in Bloemfontein is Maandag gesluit en sal waarskynlik Donderdag heropen word. Foto: Mlungisi Louw

Hul kontakte is intussen opgespoor en geïsoleer.

Hy sê die Vrystaat het 62 000 staatsamptenare wat onderwysers, verpleegsters en polisielede insluit.

Hulle is natuurlik oor die provinsie heen versprei, maar die Fidel Castro- en O.R. Tambo-gebou in Bloemfontein is die grootste werkplekke van die Vrystaatse provinsiale regering.

Ralikontsane sê ’n aangepaste Vrystaatse begroting word Donderdag goedgekeur om vir koronavirus-uitgawes voorsiening te maak.

“Dit is ’n massiewe uitgawe vir die provinsiale regering. Amptenare moes ook deurentyd betaal word te midde van die inperking toe hulle tuis was en nie kon werk nie.”

Vrystaatse studente in die buiteland

Ralikontsane sê die provinsie sal Vrystaatse studente wat hul studie in Junie in China voltooi het, terugbring huis toe.

“Ons het reeds vroeër 54 van ons studente uit Wuhan, waar die virus uitgebreek het, gaan haal en kan nou nog van ons studente uit China terugbring wat in Junie hul studie voltooi het. Ek weet nie in dié stadium hoeveel dit is wat nou teruggebring gaan word nie. Die provinsie ondersteun 138 Vrystaatse studente net in China.”

Ralikontsane sê die Vrystaat se studente in ander lande bly vir eers waar hulle is, behalwe vir enkeles wat ook afgestudeer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.