Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tariewe styg skerp in Mangaung-metro

Die Mangaung-metro se munisipale tariewe styg van 1 Julie vanjaar af skerp nadat die begroting vir die 2019-’20-geldjaar waarin dit vervat word, Vrydag goedgekeur is.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, het gesê erfbelasting styg met 7,3%, watertariewe met tussen 10% en 12% vir huishoudelike én nie-huishoudelike verbruikers nadat Bloemwater bekend gemaak het sy waterlewering aan Mangaung styg vir die 2019-’20-geldjaar met 9%, sanitasie styg met ’n gemiddeld van 8,6%, vullisverwydering met 10,79% en elektrisiteitstariewe met 13%.

Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester.Foto: Facebook

Sy sê Bloemfontein hersien sy diensleweringsooreenkoms met Bloemwater omdat dié verskaffer die stad oor die afgelope jare R311 miljoen te veel vir water laat betaal het.

Die DA, EFF en VF Plus het teen die begroting gestem, terwyl die ANC, AIC en Cope ten gunste daarvan was.

Mlamleli het ’n begroting aan die raad voorgehou waarvan die gesamentlike inkomstebegroting vir 2019-’20 op R8 miljard beraam word waarby die kapitale toelaes ingesluit is. Dit verteenwoordig ’n inkomstetoename van R384 miljoen as dit met die aanvullende begroting van R7,6 miljard van die 2018-’19-geldjaar vergelyk word.

Inkomste uit erfbelasting sal na verwagting tot R1,2 miljard verhoog. Die geprojekteerde inkomstegroei uit sanitasie word op R327,6 miljoen geskat, wat meer is as die aanvullende begroting van R275,5 miljoen van die 2018-’19-geldjaar.

Mlamleli het gesê die verwagte inkomste uit water sal tot R823,3 miljoen afneem weens die lae waterverbruik en waterbeperkings.

“Ons sal steeds outomatiese watermeters in die voorkeurgebiede installeer om te verseker dat daar betaal word vir water wat gebruik word en om die munisipaliteit se inkomste te versterk,” sê Mlamleli.

Inkomste uit elektrisiteit word geprojekteer op R2,6 miljard in die 2019-’20-geldjaar, wat ’n verhoging van R96 miljoen van die 2018-’19-boekjaar se aanvullende begroting reflekteer. Die verwydering van vullis en handelsvullis behoort ’n inkomste van R135,2 miljoen te verseker, sê Mlamleli.

Sy sê die metro ontvang toelaes en subsidies van R2,1 miljard in die vorm van bedryfs- en kapitale toekennings.

Ook word daar begroot vir bedryfstoelaes van R1 miljard en kapitale toelaes van R1,1 miljard. Dié toelaes verteenwoordig 27% van die gewaarborgde inkomste van die metro. Die orige 73% van die inkomste moet van eie fondse kom. Daarom sal die metro sy skuldinvorderings-programme en kredietbeheerde beleid moet verskerp vir inwoners wat hom nie betaal nie of geld skuld.

Mlamleli sê die gesamentlike bedryfsbegroting sal van R6,4 miljoen in die 2018-’19-geldjaar tot R6,8 miljoen in die 2019-’20-geldjaar verhoog.

Sy sê personeelverwante uitgawes word op R2 miljard geraam wat 29% van die bedryfsuitgawe is. Dit is steeds minder as die beperking van 30%.

“Die begroting vir oortyd is aansienlik gesny om voorsiening te maak vir die vul van vakatures, waarvoor meer as R105 miljoen voorsien is om te verseker dat dienslewering verbeter.”

Vir die grootmaat-aankope van elektrisiteit en water word R2,3 miljard voorsien, wat die grootste bedryfsuitgawe is. Dit verteenwoordig 34% van die totale bedryfskoste.

* Opposisieraadslede het haar veral voor stok gekry oor vullisstortings oral in Bloemfontein, rioolvuil wat in strate afloop, gesuiwerde water wat oral wegloop, slaggate in strate wat nie reggemaak word nie en straatligte wat nie werk nie.

Meer oor:  Olly Mlamleli  |  Mangaung-Metro  |  Styging  |  Tariewe  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.