Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Te min geld in VS om vrot gruispaaie te herstel

Boere moes Dinsdag in Senekal hoor dat die Vrystaatse departement vir polisie, paaie en vervoer vanjaar net R15 miljoen beskikbaar het om grondpaaie in die Thabo Mofutsanyana-distrik op te vul.

Dit kos R1 miljoen om 1 km grondpad op te vul, het hoofsupt. Charles Xhaba aan die boere gesê.

Borrie Erasmus, ’n boer van Senekal, sê aan die vergadering hy en ander boere sal gruis beskikbaar stel om die paaiedepartement te help om grondpaaie reg te maak. Foto: Alet van der Walt

Die Thabo Mofutsanyana-distrik strek oor die grootste deel van die Oos-Vrystaat en sluit ses munisipale gebiede in. Daar is 700 km grondpad in die gebied.

Xhaba en sy kollegas, Metti Kumalo en Joyce Lekhalanyane, het met die boere vergader omdat daar nou besluit moet word watter grondpaaie voorkeur moet kry.

Die begroting is net genoeg om die slegste plekke op drie paaie in die distrik reg te maak.

Hans van Niekerk, ’n melkboer, het aan Xhaba gesê dat hulle al briewe van vervoerkontrakteurs gekry het om te sê dat vragmotors nie meer veel langer op plase melk en ander landbouprodukte kan op- of aflaai nie omdat die paaie onbegaanbaar is.

Piet Venter, ’n boer van Marquard, het gesê dié geld is so min ’n mens kan dit amper maar los.

Van die boere het gekla en aan Xhaba gesê die operateurs weet nie hoe om die grondpaaie te skraap nie en beskadig die basis van die grondpad en skraap die dreineringspype oop.

Van die operateurs skraap ook die paaie te plat wat veroorsaak dat reënwater in die paaie afstroom pleks van na die kante afloop.

Xhaba het gesê die departement is besig om al die operateurs in Kroonstad op te lei sodat hulle die paaie op die regte manier kan skraap.

Xhaba het aan die boere gesê as hulle gruis beskikbaar stel, kan meer paaie reggemaak word. Borrie Erasmus het hierop gesê padwerkers kan op sy plaas gruis oplaai. Xhaba het aan die vergadering gesê as die boere en departement saamwerk, sal hulle meer paaie in stand kan hou. Die departement is bereid dat boere help om die paaie reg te maak.

Xhaba sê ook dat die departement se groot masjinerie al baie oud is en dit vat soms maande voordat masjinerie soos stootskrapers herstel word.

Meer oor:  Senekal  |  Herstelwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.