Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Tender-oorlog’ oor Vrystaat se Covid-19-kontrakte

In wat beskou word as ’n “tenderoorlog” het 1 400 sakeondernemings gereageer op ’n tender om 1 047 Vrystaatse skole tussen 24 en 29 Mei te ontsmet om leerlinge en personeellede teen Covid-19 te beskerm wanneer die skole op 1 Junie heropen.

Gadija Brown, Vrystaatse LUR vir provinsiale tesourie. Foto: Argief

Adv. Tsoareli Malakoane, hoof van die Vrystaatse onderwysdepartement, sê bewerings op sosiale media dat die onderwysdepartement net een maatskappy teen R80 miljoen vir die ontsmetting van skole aangestel het sonder om tenderprosesse te volg, is kwaadwillig en onwaar.

Hy sê die Vrystaatse onderwysdepartement volg die prosesse om verskeie ondernemings aan te stel.

“Voordat die werk uitgegee word, sal ons ook die goedkeuring van die Vrystaatse departement van finansies kry. Niks onderduims sal gedoen word nie.”

Malakoane het gesê die tender vir die werk het op 15 Mei gesluit en 1 400 sakeondernemings het per vierkante meter getender.

“Dit sou onmoontlik wees om net een maatskappy vir al die werk aan te stel omdat die werk van 24 tot 29 Mei gedoen moet word en daar is 1 047 skole wat ontsmet moet word.

Adv. Tsoareli Malakoane. Foto: Argief

“Ons wil die werk so na aan 1 Junie gedoen hê om die risiko vir die verspreiding van die koronavirus te beperk.”

Malakoane sê daar is mense wat daarvan hou om “stroomop te swem en om fop-nuus te versprei.”

Hy sê hulle het aanvanklik begin deur kwotasies van die sentrale verskaffings-databasis aan te vra vir die werk wat deur nasionale tesourie beheer word. 60 e-posse is uitgestuur.

“Die mense aan wie ons die e-posse gestuur het, moes dit gedeel het, want ons het toe baie meer aansoeke en kwotasies gekry as die getal e-posse wat ons uitgestuur het.”

Hy sê omdat die belangstelling so groot was, het hulle besluit om die mark te toets deur die kwotasies aan die stelsel te onttrek en om ’n proses van ’n kort tender te volg waar die kwotasie-aansoek weer opgestel en in die Staatskoerant geadverteer is.

1 400 ondernemings het reageer, wat volgens ingeligtes ’n staatswerk kan kry.

* Netwerk24 het Maandag berig die Smart Start Up-stigting, ’n groep Vrystaatse entrepreneurs, bevraagteken ook die R90 miljoen se Covid-19-kontrakte/tenders wat tot dusver uitgegee is om Covid-19-items aan te koop, en die deursigtigheid van die prosesse wat gevolg is.

Dr. Roy Jankielsohn. Foto: Netwerk24

Hulle het ook vrae gehad oor ’n bykomende tender van glo R80 miljoen wat aan een maatskappy toegeken sou wees om skole te ontsmet en nog honderdduisende rande se kontrakte om staatsgeboue te reinig en te ontsmet.

Morena Ntsika, voorsitter van die Smart Start Up-stigting, wou weet of die regte tenderprosesse gevolg is toe die kontrakte toegeken is.

Ntsika het gesê hulle gaan daarop bly aandring om ’n lys van 74 ondernemings se name te kry wat kontrakte gekry het en by wie maskers, handreinigers, verblyf vir hawelose mense en kospakkies aangekoop is “omdat net dieselfde kader-entrepreneurs elke keer die werk kry”.

Andrew Visagie, woordvoerder van die provinsiale tesourie, het toe geantwoord dat R90 miljoen tot dusver by 74 ondernemings bestee is. Ook dat 26 van die 74 ondernemings (34%) sakelui van buite die Vrystaat is wat werk gekry het.

Ntsika het gesê hy gaan daarop aandring dat die provinsiale tesourie die lys van die 74 diensverskaffers se name bekend maak en ook die prosesse wat gevolg is toe hulle aangestel is.

* Gadija Brown, LUR vir die provinsiale tesourie, het Donderdag gesê die provinsiale tesourie versamel nou al die inligting en sal geen probleem hê om die inligting van die 74 ondernemings te verskaf en hoe hulle aangestel is nie.

“Die Vrystaatse provinsiale regering het ’n begroting van R225 miljoen vir Covid-19, en ’n aanvullende begroting sal opgestel word om te verduidelik hoe geld van een pos verhaal is om bykomende geld by die Covid-19-begroting te plaas.”

Sy het ook gesê verskeie staatsprojekte, soos die Macufe-kultuurfees, die Blommefees in Parys en die jaarlikse internasionale beleggerskonferensie word afgelas.

Die projekte se begrotings word nou alles na die Covid-19-begroting toegedeel.

Meer oor:  Skole  |  Tender  |  Vrystaat  |  Koronavirus  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.